In ons pragtige vallei en in die hartjie van die Kaapse Wynlande lê die Franschhoekpas, Paarlberg en die Paarl Arboretum – juwele van natuurlike skoonheid en historiese belang, wat jaarliks duisende besoekers lok.

Hierdie plekke is nie net toeriste-aantreklikhede nie, maar ook deel van ons gemeenskapslewe en natuurlike erfenis.

Ongelukkig word hierdie ikoniese bestemmings toenemend geteiken deur vandalisme en onwettige aktiwiteite wat nie net die natuurlike skoonheid bedreig nie, maar ook die veiligheid van besoekers en plaaslike inwoners ondermyn.

Die Franschhoekpas, ’n baie groot toeriste-aantrekking in die gebied, is nou die jongste gebied hiér wat geteiken word.

Toerisme vervul ’n aansienlike rol in ons plaaslike ekonomieë, en die beskerming van ons natuurlike en kulturele bates asook almal se veiligheid hier, is noodsaaklik vir volhoubare ontwikkeling.

Dit is dus van kardinale belang dat meer gedoen word om hierdie gebiede te beskerm.

Dit sluit in verbeterde veiligheid, groter gemeenskapsbetrokkenheid by die bewaring van hierdie gebiede en strenger wetstoepassing teen diegene wat skade berokken.

You need to be Logged In to leave a comment.