Alhoewel die DA die tussenverkiesing in wyk 17 van Drakenstein gister (24 November) gewen het, kan dit as ’n bittersoet oorwinning vir die politieke party beskou word.
Die tussenverkiesing is hier gehou nadat die DA-raadslid, Jako Matthee, bedank het. Hierdie wyk bestaan uit die Noorder-Paarl dorpsgebied asook die Nieuwedrift-plaasgebied van Paarl noord.
Die DA het die verkiesing naelskraap gewen met 797 van die stemme teenoor die VF+ se 661 stemme. In 2021 se munisipale verkiesing het die DA hier met 2 250 stemme geseëvier teenoor die VF+ se 366 stemme.
By die NGK Paarlberg stemlokaal in die Paarl het die VF+ wel die meerderheid van inwoners se stemme geniet.
Dit is duidelik dat die DA se steun in hierdie wyk van Drakenstein geweldig gedaal het, vanaf 79,96% van die gebied se steun in 2021 tot 49,47% steun in die jongste verkiesing.
Die ANC se steun het ook met 5,34% gegroei en die EFF met 0,25%.
Die DA se Lorraine Cyster neem nou hiermee die leisels oor as raadslid vir wyk 17.

