Die DA het op 30 April ‘n wetsontwerp in die Parlement voorgestel om die reg van mense met gestremdhede te beskerm om toegang saam met hul gidshonde of hulpdiere by openbare en private ruimtes te verseker.
Die DA se wetsontwerp, genaamd die Wysigingswetsontwerp op die beskerming van presterende diere, wat ook bekendstaan as die “hulpdiere-wetsontwerp”, beoog om die toegang van, onder andere, hulpdiere wat mense met siggestremdhede begelei, te beskerm, lui ‘n verklaring deur Wendy Alexander, ‘n Parlementslid asook ‘n lid van die DA.
“Dit sal ook aanspreeklikheidsmaatreëls instel vir diegene wat onregmatig toegang weier. Niemand behoort in die toekoms daarmee weg te kom om toegang te weier nie,” het Alexander gesê.
Die DA se wetsontwerp sal ook uitvoering gee aan ‘n uitspraak van die Gelykheidshof, waarin beslis is dat ‘n staatskantoor wat toegang aan iemand met ‘n hulpdier geweier het, onbillike diskriminasie gepleeg het.

Paarl Post het in April 2024 berig oor Yvette Palm, haar seun en haar vyfjarige dienshond, Cooper, wat help met Palm se angsaanvalle en post-traumatiese stresversteuring (PTSD), wat op 9 April by die Paarlse kantoor van die departement Binnelandse Sake besoek afgelê het waar sy deur die staatsinstelling se veiligheidsbeamptes toegang tot die gebou geweier is.
Volgens hierdie berig het Palm haar minderjarige seun na binnelandse sake vergesel sodat hy vir sy identiteitsdokument aansoek te doen. Toe Palm egter die gebou wou ingaan om na haar seun te soek, wat binne was, het twee veiligheidsbeamptes haar in haar spore gekeer.
“Dit is nie ‘n gidshond nie; jy is nie blind nie,” het een van die beamptes blykbaar gesê.
Al het sy geldige dokumente verskaf wat wys dat Cooper by Paws For Life as ‘n dienshond geregistreer is, waar hy ook opgelei is, is sy na bewering steeds nie toegelaat om in te gaan nie, lui die berig.
Volgens Alexander se verklaring sal die voorgestelde wetsontwerp ‘n kritieke leemte in Suid-Afrika se wetgewende raamwerk vul, aangesien geen wet tans bestaan wat waarborg dat ‘n hulpdier, soos Cooper, van iemand met ‘n gestremdheid of geestesversteuring toegang tot openbare en private ruimtes en geboue sal hê nie.
“Elke dag word mense met gestremdhede in onmoontlike posisies geplaas deur die weiering van toegang aan hulself en hul hulpdiere, en dit moet eindig. Hulpdiere is nie troeteldiere of net wollerige maatjies nie – hulle is ‘n noodsaaklike hulpmiddel tot die lewe en lewensonderhoud van mense met gestremdhede en geestesversteurings, en hulle móét saam met hul eienaar toegang tot openbare en private ruimtes kry.”
“Suid-Afrika se vooruitstrewende Grondwet en ons verbintenis tot menswaardigheid vereis dat on hindernisse verwyder wat voll deelname aan die samelewing vir mense met gestremdhede belemmer,” he Alexander gesê.
Die Paarl Post het na die nasionale departement van binnelandse sake uitgereik, maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.
You must be logged in to post a comment.