Die speaker van die Drakenstein-munisipale raad het bewerings verwerp dat Brenda van Willingh, ’n DA-raadslid, glo minstens R18 000 van munisipale geld in haar dogters se bankrekeninge oorgeplaas het – geld wat bedoel was om werkers by ’n sopkombuis in haar wyk te betaal.
Die GOOD-party in Drakenstein het verlede week die aantygings in ’n verklaring gemaak, waarin die party eis dat die speaker, Koos le Roux, ’n komitee ingevolge artikel 16 van die gedragskode vir raadslede stig om die bewerings teen Van Willingh te ondersoek.
Van Willingh het glo ook kos, wat vir die betrokke sopkombuis bedoel was, by haar huis laat aflaai, het die GOOD-party in sy verklaring beweer.
“Luidens die klag het die raadslid na bewering twee gemeenskapslede aangestel om die sopkombuis te bestuur. Toe dit egter tyd geword het om hul toelaes te betaal, is die geld glo in die rekeninge van die raadslid se twee dogters gedeponeer.
“Die twee werkers is daarna ontslaan en met haar dogters vervang. Dit word verder beweer dat die kos wat vir die voedingskema aangewend moes word, by die raadslid se woning vir persoonlike gebruik afgelaai is,” het Keagen Gertse, GOOD se koukusleier in Drakenstein, in ’n verklaring gesê.
“Die klagte werp ook vrae oor die rol van die speaker, wat na bewering van hierdie bewerings in kennis gestel is, maar nie opgetree het nie, ten spyte van sy verpligting om dit onpartydig te doen.
“Sy versuim om daadwerklik op te tree, dui op ’n misbruik van voorregte om die DA se belange in die munisipaliteit te beskerm,” het Gertse bygevoeg.
Le Roux het Gertse se aantygings by navraag egter as onverantwoordelik bestempel en gesê ’n voorlopige ondersoek het geen ongerymdhede in die bestuur van die betrokke sopkombuis se geld gevind nie.
Volgens Le Roux het hy geensins kennis gedra van die bewerings nie en het dit het eers onder sy kantoor se aandag gekom nadat Gerste se party die mediaverklaring uitgereik het.
“My kantoor het toe kontak gemaak met die amptenare wat verantwoordelik is vir munisipale kombuise, wat aangedui het die sopkombuis in wyk 14 is van die betrokke raadslid se woning af bestuur.
“Die amptenare het aangedui dat die raadslid haar woning tydelik beskikbaar gestel het omdat die biblioteek in Groenheuwel, vanwaar die sopkombuis gewoonlik bestuur word, beset is deur inwoners wat deur die onlangse verwoestende storms geraak is,” het Le Roux gesê.
Oor die aantygings dat Van Willingh van twee werkers ontslae geraak het en hulle met haar dogters vervang het, het Le Roux gesê slegs een van die raadslid se dogters is wel aangestel.
“Die raadslid het gevra dat haar dogter vir ’n tydperk van drie maande aangestel word om te help met die oorsig en bestuur van die sopkombuis. Die amptenare het dit as ’n redelike versoek beskou. Die amptenare het verder aangedui dat soortgelyke ooreenkomste in die toekoms vermy sal word. Die klag is dus ondersoek en geen ongerymdhede is gevind nie.”
Volgens Le Roux sal hy die aangeleentheid by die raad opper, wat ’n eenparige beslissing sal moet maak oor hoe die bewerings hanteer sal word.