Drakenstein se munisipale bestuurder, dr. Johan Leibbrandt. Foto: Verskaf


Die regerende DA-party in die Drakenstein- munisipale raad is verdeeld oor die toekoms van dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, na aanleiding van ’n stemnota deur ’n DA-raadslid waarin sy vra dat Leibbrandt se beweerde gedrag teen vroulike werknemers en sy opmerkings oor raadslede sonder kwalifikasies by die provinsiale leierskap geopper moet word.

Paarl Post het die agt minuut lange stemnota, wat vermoedelik op die WhatsApp-groep vir DA-raadslede gestuur is, bekom.

Daarin spreek sy haarself uit oor die beweerde uitlatings wat deur Leibbrandt teenoor veral vroue by die munisipaliteit gemaak is.

Paarl Post het verlede maand berig dat ’n vroulike munisipale werknemer in die behuisingsafdeling Leibbrandt se beweerde onvanpaste en suggestiewe opmerkings by die raad aangemeld het.

In haar grief van 27 bladsye beskuldig sy hom van seksuele teistering, viktimisering en boelie- gedrag.

Die griefdokument bevat skermgrepe van WhatsApp-boodskappe wat tussen haar en Leibbrandt gestuur is.

Hy het vir ’n geruime tyd gevra dat ons moet help om vir *** ’n nuwe pruik te kry. Hy het nie noodwendig ’n probleem met die idee van ’n pruik gehad nie, maar wou nie hê dat dit soos gras moes lyk nie.

Een van die opmerkings wat hy in ’n boodskap maak, gaan oor ’n ander vroulike werker se pruik.

“Hy het vir ’n geruime tyd gevra dat ons moet help om vir *** ’n nuwe pruik te kry. Hy het nie noodwendig ’n probleem met die idee van ’n pruik gehad nie, maar wou nie hê dat dit soos gras moes lyk nie,” lui die griefdokument.

Hy het verder na bewering opgemerk die enigste kwalifiserende dokument waaroor sommige munisipale amptenare beskik, is hul geboortesertifikaat.

Die grief is toe deur Stephen Korabie, die uitvoerende burgemeester, se kantoor ondersoek en die uitkoms daarvan het op die raadsvergadering van 26 Julie gedien.

Volgens Korabie is die werknemer “selektief” in die voorlegging van dele van die WhatsApp-boodskappe tussen haar en Leibbrandt.

Altesaam 53 uit die 56 raadslede het toe gestem dat daar geen redelike gronde was om te beweer dat die stadsbestuurder hom wangedra het nie, en die grief is gevolglik laat vaar.

Dit is juis hierdie besluit wat toe tot verdere spanning in ’n reeds verdeelde DA-koukus gelei het.

“Ek het my doek vandag afgehaal om te wys dat ek nie ’n pruik dra nie, want ek voel baie ongelukkig.

“[Oor] dit wat die stadsbestuurder gesê het en dit wat daar staan, en hoe ek vandag in die koukus geluister het hoe ongelukkig baie van ons vrouens voel – ek voel diep seergemaak en ongelukkig,” lui die stemnota deur die DA-raadslid, wat Paarl Post bekom het.

Hy is ’n stadsbestuurder. Hy moenie vir hom bepaal (sic) by ons politieke aanstellings nie, want hy het nie vir ons daar geplaas nie. Ons werk nie onder hom nie.

Sy het verder in die stemnota gesê: “Hy is ’n stadsbestuurder. Hy moenie vir hom bepaal (sic) by ons politieke aanstellings nie, want hy het nie vir ons daar geplaas nie. Ons werk nie onder hom nie.

“Ons is die regerende party. Ek kan nie dink dat ons stilbly en toelaat dat die man wegkom met al die goed wat hy kwytgeraak het nie. Hy het baie van my mede-kollegas (sic) te na gekom met sy opmerkings”.

Sy het verder geëis dat Leibbrandt formeel om verskoning vra en pa staan vir sy uitlatings

“Hy kan kom kyk of hier pruike op ons koppe is. Nie een DA-raadslid dra ’n pruik nie.

“Ek sit met 20 jaar politieke agtergrond. Ek het kennis en ervaring oor munisipaliteite wat hy nie het nie. Op grondvlak weet hy niks. Hy weet nie wat tussen die mense aangaan nie.

“Dit is hoekom hy aanmekaar sake vang. Ons moes sover heeltyd die goed van hom toesmeer. Dis nie nou meer tyd vir toesmeer nie.

“Die stadsbestuurder moet vir al ons vroueraadslede formeel om verskoning vra vir die uitlatings wat hy gemaak het. As hy nie dit gaan doen nie, dan stop julle my nie,” het sy gesê terwyl sy gedreig het dat sy Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sal raadpleeg.

Intussen het die GOOD-party in Drakenstein Korabie daarvan beskuldig dat hy nie die grief teen Leibbrandt met die nodige erns hanteer het nie.

GOOD sê ook Korabie het nie die mag gehad om self die ondersoek oor die klagtes te hanteer nie.

“Die burgemeester het die reëls en regulasies nalatig toegepas en die raad mislei oor die omstandighede [rakende] die klagte.

“Hy het onbillik en met vooroordeel teenoor die klaer opgetree.

“Hierdie minagting van die reëls is ’n duidelike aanduiding dat die burgemeester en die stadsbestuurder kop in een mus is,” het ’n verklaring deur Keagen Gertse, ’n GOOD-raadslid, verlede week gelui.

You need to be Logged In to leave a comment.