Die DA-koukus in Drakenstein sê hy het met hartseer verneem van die nuus oor Vanessa Booysen, wyksraadslid van Amstelhof in Paarl-Oos, se afsterwe Saterdag (10 Mei).
Inligting oor hoe Booysen oorlede is, is in die stadium onbekend.
Die koukus het in ‘n verklaring gesê Booysen se afsterwe laat ‘n groot leemte en dat sy haar gemeenskap met onwankelbare toewyding, deernis en integriteit gedien het.
“Haar verbintenis tot openbare diens en die welstand van haar kiesers was duidelik in alles wat sy gedoen het, en haar afwesigheid sal diep gevoel word deur kollegas sowel as gemeenskapslede.
“Raadslid Booysen was meer as net ‘n openbare dienswerker. Sy was ’n leier, ’n mentor en ’n vriendin vir baie. Haar onvermoeide werk en sagte gees laat ’n nalatenskap van diens agter wat ons steeds sal inspireer,” lui die verklaring.

Die koukus het sy medelye met haar familie, vriende en “almal wat die voorreg gehad het om saam met haar te werk” betuig.
Huldeblyk het ook Saterdagmiddag op Facebook ingestroom na die nuus gebreek het.
“Dit is regtig ‘n baie hartseer dag in Drakenstein. ‘n Baie groot seder het geval.
“Iemand wie haar gewig in gegooi het. Sy was ‘n mense mens wat nie geskroom het om haar gemeenskap te dien met alles en meer.
“Sy was voorwaar ‘n dapper stryder vir haar mense en haar party! Sy laat ‘n baie groot leemte ook vir haar familie agter vir wie sy so ontsaglik lief was,” het ‘n inskrywing deur inwoner Ronnie Solomons gelui.
Christephine Keans, die DA se hoofsweep in Drakenstein, het gesê: “my hart is in ‘n miljoen stukke gebreek”.
“Veertien jaar se vriendskap wat ek altyd sal koester. Al ons goeie herinneringe saam. Rus in vrede my kollega.”
‘n Afvaardiging van die DA se provinsiale leierskap sal na verwagting Maandag Booysen se familie in Paarl-Oos besoek.
You must be logged in to post a comment.