Mark Burke (links) die DA se woordvoerder oor finansies en Helen Zille buite die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: @Our_DA/x
Mark Burke (links) die DA se woordvoerder oor finansies en Helen Zille buite die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: @Our_DA/x

Die DA het Donderdag (3 April) hofstukke in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die grondwetlikheid van die 2025/26- nasionale begrotingsproses te betwis.

Tensy dit deur ‘n interdik gestop word, sal ‘n verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) op 1 Mei deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geïmplementeer word.

Dit is presies wat die DA probeer voorkom.

“Ons neem hierdie saak hof toe om te verseker dat Suid-Afrikaners nie onregverdig met hoër lewenskoste belas word nie.

“Hierdie regsgeding is daarop gemik om die minister van finansies se aankondiging oor die BTW-verhogin te staak en die hele fiskale raamwerking wat gister (Woensdag) goedgekeur is, tersyde te stel,” het Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad Donderdag in ’n verklaring gesê.

Volgens Zille was Enoch Godongwana, die minster van finansies, se besluit om die BTW-verhoging bloot deur sy toespraak aan te kondig, heeltemal ongrondwetlik.

“Indien dit ongrondwetlik bevind word, sal minister Godongwana se aankondiging op 12 Maart oor die verhoging nie bindend wees nie,” het Zille bygevoeg.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federal raad, spreek Donderdag (3 April) die media buite die hooggeregshof in Kaapstad toe. Foto: @Our_DA/x

Die DA het ook kritiek uitgespreek teenoor ander politieke partye wat die fiskale raamwerk ondersteun het.

“Deur gister in die parlement vir hierdie fiskale raamwerk te stem, het ActionSA, die IVP en verskeie kleiner partye ‘n verhoging in BTW goedgekeur.

“Hierdie besluit sal ‘n verwoestende uitwerking hê op Suid-Afrikaners wat reeds sukkel om kop bo water te hou,” het Zille benadruk.

Volgens haar was die DA van die begin af konsekwent dat daar eers betekenisvolle ekonomiese hervormings moet wees om groei aan te wakker voordat ‘n BTW-verhoging oorweeg kan word.

“Die DA sal aanhou om in die beste belang van Suid-Afrikaners op te tree en te veg vir beleide wat ekonomiese groei versnel.”

Intussen heers spanning en onduidelikheid oor die toekoms van die regering van nasionale eenheid (RNU), nadat RNE-partye soos die PA en IFP saam met die ANC Woensdag ten gunste van die begroting gestem het.

Die begroting is met 194 stemme goedgekeur. Altesaam 182 parlementslede het daarteen gestem.

Die fiskale raamwerk moet binne 35 dae verwerk en finaal goedgekeur word aangesien dit bepaal hoe finansiering tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings verdeel word.

Die Nasionale Vergadering sal na verwagting op 6 Mei vir hierdie doeleindes sit.

You need to be Logged In to leave a comment.