Met die PA wat tot dusver steun in verskeie provinsies in vanjaar se verkiesing verower het, het die FW de Klerk-stigting ‘n beroep op dié party se leierskap asook die van die DA gedoen om die strydbyl neer te lê en ‘n konstruktiewe gesprek te voer oor die uitdagings wat bruin gemeenskappe beleef en dit saam aan te pak.
Die ondersteuning wat die PA tot dusver by die stembus kry, spreek boekdele van ‘n versugting van ‘n groot deel van die bruin gemeenskap om groter erkenning en insluiting by die hoofstroom politiek. Dit is ‘n groot fout om bruin mense se oorweldigende steun vir die PA bloot af te maak as ‘n terugval op identiteitspolitiek,” het Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die stigting, Vrydag in ‘n verklaring gesê.
Volgens Van der Rheede kan die PA se steun toegeskryf word aan die “diepgewortelde marginalisering en vervreemding wat veral werkersklas bruinmense ervaar”.
“Dit is die groep mense wat die meeste geraak word deur bendebedrywighede, misdaad, dwelmmisbruik, hoë uitvalkoers op skole, beperkte toegang tot tersiêre inrigtings, werkloosheid, uitsluiting van koop aangeleenthede. Dit is ook dié gemeenskap wat oor tyd geweldig verarm het en wat in ‘n groef van desperaatheid en uitsigloosheid vasgevang is.
“Kyk ‘n mens na die ooreenkomste tussen die DA en PA se manifeste, is daar veel meer ooreenkomste as verskille. Die feit is daar is basies net twee groot verskille wat verband hou met die terugbring van die doodstraf wat opsigself ongrondwetlik sal wees en om kort mette van onwettige immigrante te maak.”
Die PA was teen 11:00 Vrydag die party met die derde meeste stemme (9,32%) in die Wes-Kaap.
Die DA het in daardie stadium voorgeloop met 54,63% van die provinsiale stemme, en die ANC in tweede plek met 18,83%.