Dit was weer eens ’n skip vol dwase.

Ek verwys hier spesifiek na die toerisme-Imbizo wat op die vooraand van president Cyril Ramaphosa se streeks-Imbizo in die Drakenstein gehou is.

Ook, ons as belanghebbendes in die toerismebedryf is letterlik nie eens 24 uur kennis gegee nie – baie min tyd om voor te berei, en dan ook het talle van ons day jobs en afsprake wat lank vooraf gemaak is.

Ek het inderhaas en met die hoop dat hier vrugte gewerp sal word, planne beraam om die sessie by te woon.

Maar, wat ’n teleurstelling! Weer eens het die munisipaliteit se sogenaamde “toerisme-afdeling” voltallig daar gesit, maar nie veel bydraes gehad om te lewer nie – suiwer omdat hulle NIE bydraes in verband met toerisme in ons vallei het nie.

Die boodskap van hul kant af is egter duidelik – wyntoerisme maak nie deel uit van hul beplanning nie, en die fokus op sport gaan nou baie aandag kry.

Soos onlangs tereg in die media berig is, bring sportbyeenkomste slegs kortstondige voete na ons vallei toe, maar nie langdurende toeriste wat die vallei ten volle benut nie.

Wyntoerisme bring wel mense hierheen, wat langer hier vertoef en meer geld hier bestee.

Ook – die munisipaliteit se enigste beduiende bydrae tot toerisme is om slegs sy ondersteuning vir hierdie sportbyeenkomste te bied, soos verkeersbeamptes asook munisipale terreine beskikbaar te stel. Nie veel werk gaan hoegenaamd vir die munisipale amptenare hierin nie.

Kyk maar na al die ander baie suksesvolle toerisme-agentskappe in die Boland en Kaapstad-omgewing – hulle word as private entiteite deur kundiges in die bedryf bestuur, nie deur “staatsamptenare” wat net pal agter hul lessenaars sit om hul vet salarisse te “verdien” nie.


CdJ,

Wellington

You need to be Logged In to leave a comment.