Ashlon Davids duik vir sy drie in ‘n epiese Curriebeker-stryd Sondag (27 Julie) in die Boland-stadion teen die Vrystaat Cheetahs. Foto: Ashley Vlotman| Gallo Images

In een van die mees dramatiese afdelings van die openingsronde van die 2025-Carling-Curriebeker-premierafdeling het die Sanlam-Boland-Kavaliers hul terugkeer na Suid-Afrika se oudste rugbykompetisie met ‘n indrukwekkende oorwinning beklink.

Die tuisspan het die gunstelinge, die Toyota-Cheetahs, Sondagmiddag voor ‘n volgepakte Boland-stadion met 37-35 verslaan in ‘n kragmeting wat tot die laaste sekondes op ‘n mespunt gebalanseer was.

Dit was die Kavaliers se eerste Curriebeker-wedstryd in nege jaar – en hulle het die toets van karakter met vlieënde vaandels geslaag.

James Tedder, die heelagter van Boland, het vroeg in die wedstryd die eerste punte met ‘n strafskop reg voor die pale aangeteken. Hy het nog ‘n strafskop bygevoeg om die Kavaliers ná 14 minute met 6-0 te laat voorloop. Ná ‘n strafskop wat lyn toe geskop is, het Ashlon Davids die eerste drie van die middag in die hoek gaan druk, wat Tedder suksesvol verdoel het. Die Cheetahs het ná 20 minute hul eerste punte op die telbord gesit met ‘n verdoelde drie, en later, met 14 minute in die eerste helfte oor, nog een bygevoeg om die voortou te neem. ‘n Geelkaart aan die besoekers – met nege minute in die eerste helfte oor – het Boland egter ‘n geleentheid gebied en David Brits het dit benut met ‘n drie wat deur Tedder verdoel is.

Kort voor rustyd het Gift Dlamini ‘n briljante solo-lopie begin, wat uiteindelik op Davids se tweede drie uitgeloop het – weer eens deur Tedder verdoel– om Boland ‘n 27-14-voorsprong met rustyd te gee.

Die Cheetahs het in die tweede helfte sterk teruggekom en hul plaasvervangers het ‘n onmiddellike uitwerking gehad. Twee vinnige drieë – een ná ‘n skrumstraf en die ander van ‘n rolmaalbeweging – het die Vrystaters in die laaste kwart van die wedstryd 35-27 laat voorloop. Met agt minute oor het dit gelyk of Boland se droomdebuut in duie gaan stort, maar die tuisspan het sy karakter gewys. Marcoiewn Titus het ‘n bonuspunt-drie gaan druk met net meer as een minuut op die horlosie oor, en toe – in die laaste beweging van die wedstryd – het Donavan Don die wen-drie gedruk, wat die skare in vreugde laat uitbars het.

Sanlam–Boland-Kavaliers: 37

Drieë: Ashlon Davids (2), David Brits, Marcoiewn Titus, Donavan Don

Doelskoppe: James Tedder (3)

Strafdoele: James Tedder (2)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article