Ons dink altyd aan jou. Ons praat steeds oor jou. Ons het jou nog nie vergeet nie, en ons sal ook nie. Ons het vandag aan jou gedink, maar dis niks nuuts nie, ons het gister aan jou gedink, en die dag voor dit. Ons dink aan jou wanneer dit stil is, wanneer dit raas . . . Ons dink altyd aan jou.
Jou naam lê op die punt van ons tonge, trane in ons oë oor die herinneringe wat jy bring, die hartseer wat jy agterlaat. Jy bring vir my familie en vriende bekommernis en vrees.
Jy het dit mooi reggekry om seker te maak almal stop, staan stil en gee aandag aan jou. Jy het van ons huise tronke gemaak.
Jy het dinge kom omkrap; die pad vorentoe ’n moeilike opdraande gemaak. Jy het ons van ons inkomste beroof, skuld op ons skouers gemaak.
In die aande lê ons wakker en dink aan alles wat jy van ons weggevat het: Ons eerste skooldag, ons laaste skooldag, ons enigste matriekafskeid, ons geluk.
Maar op ’n punt moet ons laat gaan en aanbeweeg. Dit is miskien die moeilikste ding in die wêreld om te doen, maar ons gaan al die krag wat ons kan vind, gebruik om jou te laat gaan. Sommige mense is net nie bedoel vir jou nie, maak nie saak hoe graag jy wens hulle was nie.
Sommige geleenthede en situasies gaan nie uitwerk nie, maak nie saak hoe graag ons gehoop het dit sou nie. Dit is oukei as dit nie uitwerk nie. Niemand se lewe is ’n perfekte reguit lyn nie. Almal het krom draaie en struikelblokke, even die ergste, vir jou.
So wanneer ons wens dat dinge buite ons beheer sal verander, maak al jou motivering bymekaar en begin in ’n nuwe rigting loop, want dit sal jou net nader aan die ware pad bring.
Hierdie reis, hierdie pad, is nie gemaak dat jy in jouself moet twyfel nie, maar eerder om sterker te word en te besef wie jy regtig is. Covid-19, jy kan nie vir ons sê wie ons is nie, jy het nie die reg nie.
Jy het baie gesteel, maar jy kan nooit ons liefde vat, ons hoop verbrysel, ons in ons geloof laat twyfel, ons vrede vernietig, ons vriendskappe doodmaak, herinneringe laat verdwyn, ons moed stilmaak, ons siel binnedring, ons ewige lewe steel, of ons gees oorwin nie.
Dis amper tyd om te groet, maar nog nie heeltemal nie. Dit is sover ’n moeilike jaar en hier sit ons nou, so naby aan die einde, maar nog te ver om aan te gryp. Ons probeer verstaan en ons het al so baie by jou geleer. Daar was al hobbels in die pad en daar gaan nog baie wees, maar vir nou sal ons ons beste probeer. Ons sal begin vorentoe kyk en oor begin, nuwe doelwitte stel en nuwe geluk vind.
Dankie dat jy ons laat stilstaan het sodat ons kon luister en besef wat regtig saak maak – familie.
Ons is nie bang om dié keer oor te begin nie, want ons begin nie van voor af nie, ons begin uit ervaring. “Moet jou nie ontstel nie, bly net glo!” – Markus 5:36. Covid-19, jy mag maar gaan.. Esterlie Maré is ’n gr.12-leerder aan die Hoërskool Strand in die Helderberg.