Die Afrikaanse Taalmonument is weer eens besig om onder die kroondenne van die hange van Paarlberg te maai.

Vir ’n klompie jaar al lyk dit asof die Taalmonument met die ondersteuning van die munisipaliteit ontslae wil raak van hierdie pragtige woud wat deur talle natuurliefhebbers geniet word.

Hul verskoning oor die jare: Dis uitheemse bome en ’n brandgevaar.

Die gemeenskap van Courtrai het in 2020 hieroor kop aan kop gekom met die Taalmonument se mense, die kontrakteurs en die munisipaliteit en die slagting van die woud is toe gekeer.

Courtrai se kroondennebos is sowat 150 jaar oud en uiters waardevol en moet immers bewaar word.

Toe die eerste Europese setlaars die Kaap begin bewoon en bewerk het, was dit, met uitsondering van die paar inheemse woudkolle in beskermde klowe, vir alle praktiese doeleindes boomloos en mense is destyds blootgestel aan die ruwe elemente van die land, asook ’n gebrek aan hout.

Kan ons ons vandag indink in boomlose landskappe? Sonder uitheemse bome sou dit ons erg aan ontberings blootstel. Daarom het die immigrante spoedig begin om bome uit Europa om hul wonings en in plantasies te plant – veral eike en denne.

Ten spyte van kultuurgeskiedkundige geboue hier in die Paarl, sou dit maar ’n onaantreklike dorp sonder sy grotendeels uitheemse bome gewees het.

Die eikeboom is ’n ingeburgerde immigrant, maar sou ons dit duld as skielik besluit word eikebome is uitheemse indringers en moet uitgeroei word? Tog kan ek jou verseker dat daar vandag mense – selfs wetenskaplikes – is wat hierdie benadering voorstaan. Hulle wil die horlosie driehonderd jaar terugdraai, maar dis nie realisties nie.

Waarom is die munisipaliteit so toegespits op die verwoesting van die Courtrai-bos, terwyl talle dele van die berg vervuil is juis met bome wat ’n geweldige brandgevaar inhou – soos die derduisende wattelbome wat die sentrale dele van die berg al oorgeneem het?

Kyk net na die verwoestende 2009-brand wat juis daar ontstaan het en die berg erg verwoes en eiendom bedreig het. Ook vroeër vanjaar is derduisende rande uitgegee om ’n brand daar te blus – een wat ook in die hartjie van die wattelbos ontstaan het.

Moet ’n mens nie eerder kyk na hierdie werklike probleemareas voordat gekrap word waar dit nie jeuk nie?


Boomliefhebber,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.