Hendricks vier sy tweede drie in ‘n kragmeting tussen die Bulle en die Hurricanes in Junie 2019. Foto: AFP

Die ontslape oud-Springbok-vleuel Cornal Hendricks het so te sê ‘n volmaakte rugbyloopbaan gehad. Hy het sy buiging by die Boland Kavaliers in 2008 gemaak en elders professioneel rugby gaan speel voordat hy na sy eerste liefde teruggekeer en waar hy sy laaste dae op die rugbyveld deurgebring het.

Hendricks, ‘n boorling van die Paarl en wat sy hoërskoolloopbaan aan die Bergrivier Sekondêre Skool in Wellington voltooi het, is Donderdag (15 Mei) in die ouderdom van 37 aan ‘n hartaanval oorlede.

Sy ontydelike afsterwe het skokgolwe deur die internasionale rugbygemeenskap gestuur.

Hendricks se professionele rugbyloopbaan het in 2008 begin toe hy ‘n kontrak met die Boland Kavaliers geteken het.

In 2012 het hy by die Vrystaat se Cheetahs aangesluit. Hier is sy besondere talent raakgesien en in 2014 is hy in die Springbok-span opgeneem.

Hy het die Springbokke in 2014 en 2015 as vleuel in altesaam 12 toetse verteenwoordig.

Hendricks het ook vir die Blitsbokke en van 2019 tot onlangs vir die Bulle uitgedraf.

Hendricks het vanaf 2019 tot Oktober verlede jaar vir die Bulle uitgedraf.
Hendricks het vanaf 2019 tot Oktober verlede jaar vir die Bulle uitgedraf.

Benewens sy professionele loopbaan het hy ook graag teruggeploeg in sy gemeenskap deur inisiatiewe soos die Cornal Hendricks-stigting.

Die stigting het dikwels rugbyklinieke by veral landelike skole aangebied.

“Ek onthou nog my skoolrugbydae soos gister. Ek het baie pret gehad, maar ek het groot gedroom,” het Hendricks in Mei 2018 aan leerders by ‘n rugbykliniek by die Newton Primêre Skool in Wellington gesê.

“Julle is die rolmodelle en leiers van die toekoms.

“Gebruik jul kanse in die lewe en julle sal suksesvol wees.”

Paarl Post het voorheen berig dat ‘n harttoestand in 2015 by Hendricks gediagnoseer is.

Ná drie jaar van rehabilitasie en mediese konsultasies het hy in 2019 na die rugbyveld teruggekeer.

Hendricks het in Oktober verlede jaar sy kontrak met die Bulle beëindig om na die Boland Kavaliers terug te keer.

Die idee was dat hy sy rugbyloopbaan daar sou afsluit.

Van Hendricks se familielede het die afgelope Saterdag (17 Mei) die rugbywedstryd tussen Roses United RFC en Villagers Newton RFC bygewoon. Foto: Verskaf
Van Hendricks se familielede het die afgelope Saterdag (17 Mei) die rugbywedstryd tussen Roses United RFC en Villagers Newton RFC bygewoon. Foto: Verskaf

Rapport het die afgelope Sondag berig dat die Kavaliers twee maande gelede besef het Hendricks se harttoestand het tot só ‘n mate vererger dat hy gesukkel het om ná strawwe oefening te herstel.

Volgens Rapport het die Kavaliers se mediese span hom ná sy laaste wedstryd op 22 Maart teen die Valke in Kemptonpark aangesê om op te hou rugby speel.

“Ons het gesien hy reageer nie goed op oefening nie en het daarna ‘n volledige mediese ondersoek met hom gedoen. Twee weke ná sy laaste wedstryd het ek by hom gaan sit en gesê dit lyk asof sy toestand besig is om te verswak,” het dr. Byron Haupt, die Kavaliers se spandokter, vandeesweek gesê.

“Ons kon dit waag en hom langer laat speel, maar ek het gevoel dis veiliger om die gordyn oor sy loopbaan te laat sak. Met sy harttoestand soos dit was, sou ‘n spel soos rugby, met soveel onderbrekings, nie voordelig vir hom wees nie. Hy het ‘n jong gesin gehad, ‘n toekoms wat voorlê en ons het besluit om sy loopbaan te beëindig. Ons het hom medies ongeskik laat verklaar.”

Volgens Rapport het Hendricks Woensdagaand by sy huis in die Volendam-landgoed in Wellington inmekaargesak nadat hy van ‘n brandpyn in die bors gekla het.

Hy is ná 21:00 in die hospitaal weens ‘n hartaanval dood – minder as ‘n maand nadat hy sy 37ste verjaardag op 18 April gevier het.

• Sy begrafnis vind Sondag (25 Mei) om 12:00 by die NG Moedergemeente in Wellington plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.