Conqueror Wes-Kaap is onlangs as een van die finaliste by Ontbytsake se Onderneming van die Jaar aangekondig nadat die onderneming onder die leiding van Jòvan Pienaar, die eienaar van die tak, en sy lojale span die afgelope twee jaar van krag tot krag gegroei het.
Dié handelaar, geleë langs die R45 op die perseel van die Simondium Guild, sal in Oktober weet wie as wenner aangewys is, met die benoeming wat beskryf word as ‘n spanpoging waartoe alle werknemers by die betrokke tak ‘n betekenisvolle bydrae lewer.
Niks is ook moontlik sonder geloof nie, het Pienaar gesê, en verduidelik dat sy suksesse – buiten die goeie span wat langs hom staan – ook toegeskryf kan word aan God se helpende hand wat hom daagliks in die regte rigting lei.
Volgens hom skryf ondernemings nie self vir hierdie kompetisie in nie, maar hulle word benoem, waarna ‘n paneel beoordelaars asook ‘n openbare stemproses die uiteindelike wenner bepaal.
Hy bestempel dit as ‘n “groot eer” om as ‘n finalis benoem te word en mee te ding met van die land se top-ondernemings insluitend onder meer Akademia, Lottoland, Hennie’s en NuSkinnovation.
Pienaar het die onderneming in Oktober 2023 gekoop ná suksesvolle onderhandelinge met Conqueror Suid-Afrika, waarna hy sy werk as ‘n regsgeleerde opsy geskuif het om sy passie – die bou en verkoop van veldry-sleepwaens – ‘n kans te gee.

Hy het verduidelik dat hy sy loopbaan oorspronklik in die regte begin het, en as ‘n stokperdjie woonwaens en veldry-sleepwaens restoureer het. In
hierdie tyd het hy verskeie Conqueror- waentjies ook gediens en gerestoureer, waarna Conqueror Suid-Afrika hom gereeld vir hul klante aanbeveel het.
Hierna het die stokperdjie vlamgevat, waarna hy besluit het om die skuif van Gauteng na die Paarl te maak, waar hy sy passie in ‘n voltydse werk omgeskep het. Sedertdien het Conqueror
Wes-Kaap ‘n rekordgetal van ongeveer sestig veldry-sleepwaens per jaar verkoop.
Pienaar se familie is van die Paarl, en het ook aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer, dus keer die gesin “terug huis toe”.
Die onderneming het ook uitgebrei en twee bykomende maatskappye geopen, naamlik Conqueror Storage, waar verskeie waens geberg kan word, asook die Cape Canvas Company, wat gehalte-tente en tentbykomstighede vervaardig.
Tans is Conqueror Wes-Kaap ‘n trotse lid van die Drakenstein-sakekamer en hoop ook om hier as onderneming van die jaar benoem te word.
Ander pryse wat die Conquoror-groep die afgelope paar jaar losgeslaan het, sluit in:
• Goud vir Die Burger se beste kampeersleepwa van 2024;
• Goud vir Rapport se beste kampeersleepwa van 2024;
• Platinum vir Beeld se beste kampeersleepwa van 2024;
• Goud vir Beeld se se beste kampeersleepwa van 2023;
• Eerste plek vir The Great Outdoors Guide se Off-road Trailer of the Year- kompetisie in 2018;
• Eerste plek vir The Great Outdoors Guide se Caravan of the Year-kompetisie in 2018; en
• Eerste plek vir The Great Outdoors Guide se Caravan of the Year-kompetisie in 2019.