Cole Pietersen saam met sy ouers, Johan en Adelaide Pietersen.

Chantelle Hartebeest

Vir die gesin en familie van die 14-jarige Cole Pietersen laat sy afsterwe ‘n groot leemte, maar hulle berus hulle daarby dat hy van sy pyn verlos is.

Dié tiener van Wellington is op 11 April oorlede nadat hy teen drie verskillende seldsame siektes geveg het, naamlik Bickerstaff se breinstam-enkefalitis (inflammasie van die brein, wat veroorsaak word deur ‘n infeksie of immuunselle wat verkeerdelik die brein aanval); Guillain-Barré-sindroom (‘n toestand waarin die liggaam se immuunstelsel die senuwees aanval en wat swakheid, gevoelloosheid of verlamming veroorsaak); en miastenie (veroorsaak dat spiere onder jou vrywillige beheer swak voel en vinnig moeg word).

Só word die siektes verduidelik deur die Mayo Clinic, ‘n Amerikaanse kliniek wat met topgehalte-sorg en vooraanstaande navorsing pronk.

Cole se ma, Adelaide Pietersen, vertel haar seun is in 2018 gediagnoseer toe hy skielik siek geword het. Cole is destyds in die Paarl-hospitaal opgeneem en later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar hy ‘n paar maande deurgebring het.

Met al sy verskeie diagnoses mag Cole ook nie koorsig geword het nie, want dan moes hy dadelik in die hospitaal opgeneem word.

Pietersen vertel haar seun het beter geword en vir ‘n tyd het sy gedink en gehoop dat hy genees is.

“Hy was ‘n lieflike kind. Cole was altyd in die huis en het nie sommer uitgegaan nie. Ek het alles vir hom gedoen wat nodig is. Hy was ‘n kind wat vir die Here gelewe het en wat baie lief was vir musiek. Nou, ná sy dood, is dit soos ‘n legkaart wat inmekaarpas – goedjies wat hy gedoen en gesê het. Kort voordat hy weer siek geword het, het ek en hy op die bed gelê en hy het die gesang ‘Be still and know that I am God’ gesing ”, vertel Pietersen.

Teen die einde van verlede kwartaal het hy weer sleg begin voel.

Cole was ten tyde van sy dood ‘n gr. 8-leerder aan Bergrivier Sekondêr.

“Dit was die laaste vak wat hy moes skryf en hoewel ek gesê het hy moet liewer by die huis bly, was Cole vasberade om daardie eksamenvraestel te gaan aflê. Hy het vir my gesê hy gaan onder die top-10-leerders in sy graad wees, en dit was so.”

Pietersen beskryf haar seun as ‘n engel wat gereed gemaak het vir die ewige lewe.

“Ons het altyd gebid vir ‘n wonderwerk en dat hy gesond sal word. Ons het hoop gehad, maar toe sterf Cole. Ek berus my daarin dat, hoewel dit hartseer is, die wonderwerk gebeur het. Cole is genees en hy is sonder pyn.

“Sy pa, Johan, vat Cole se dood maar moeilik. Die dag van sy sterfte het ons hom nog gaan besoek en ons was net weg toe is ons gevra om weer terug te kom. In daardie tyd wat ek en sy pa weg was, het Cole saggies afgesterf. Dit is ‘n groot leemte, maar ek en my man troos mekaar. Ons ontvang ook baie ondersteuning van familie en vriende.”

Cole se begrafnis vind 27 April by Bergrivier Sekondêr plaas. Besigtiging is van 11:00 tot 12:00 en sal gevolg word deur ‘n diens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article