Ná ’n gesin vier dae lank die ergste gevrees het nadat hul African Grey-papegaai spoorloos verdwyn het, is Coco weer tuis.
Die eienaars, wat om veiligheidsredes anoniem wil bly, het gesê Coco was Maandag (24 Januarie) net weg uit haar geslote hok by hul huis in sentraal-Paarl.
Coco is reeds 18 jaar deel van die gesin en hulle sê dat sy eerstens nie self haar hek sou kon oopmaak nie, en tweedens, haar vlerke word gereeld geknip, so sy kan ook nie vlieg nie.
Dus is hulle oortuig dat Coco feitlik onder hul neuse gesteel is.
Hulle vertel dat hulle verlede Maandag stukkend was toe hulle agterkom dat hul geveerde vriend van baie jare skoonveld is.
Hulle het op verskeie sosiale media platforms die gemeenskap gevra om op die uitkyk te wees vir Coco, maar die week het verbygegaan sonder enige vreugde.
Maar nadat Paarl Post verlede Donderdag op straat beland het met ’n foto van die vermiste Coco daarin, het hulle ’n oproep vanuit Newton ontvang van ’n man wat vir hulle vertel het hy is oortuig Coco is by hom.
Die man het vertel dat hy naby Newton in Jan van Riebeeckrylaan deur ’n man genader is wat die African Grey aan hom wou verkoop.
Die man was bekommerd oor die voël se veiligheid en veral omdat die voël in die uiters warm omstandighede geen kos of water gehad het nie. Hy het toe R500 vir Coco betaal en hom huistoe geneem as ’n geskenk vir sy seun.
Maar toe hy Coco se foto in die koerant sien, het hy besef die voël is waarskynlik gesteel, en het hy in verbinding getree met die regte eienaars. Herenig met haar mense, was Coco duidelik honger en dors, maar terug in haar hok het sy begin ontspan en haar gewone ou truuks uitgehaal.


