Die bekende fotograaf Cloete Breytenbach is onlangs oorlede. Cloete was lid van die bekende Wellingtonse gesin onder wie ook die skrywer Breyten Breytenbach, wat almal in die Burgerstraat-huis waar die Breytenbach-sentrum vandag geleë is, grootgeword het.

Cloete het ook ’n baie groot rol in die vestiging van die Breytenbach-sentrum – ’n baken van kuns en kultuur in Wellington – gespeel.

Die bekende oudjoernalis Martie Meiring het hierdie huldeblyk aan Cloete op die LitNet-webwerf gepubliseer.

Die ding met die fotograaf Cloete Breytenbach op ’n verslagsending was dat hy altyd die regte skoot kon neem, al het jy, die verslaggewer, ewe wysneusig probeer om “hoeke” vir hom voor te sê.

Hy sou dan, stil-stil, mond kopknikkend gepers, vriendelike oë na jou gemik, maak soos jy, onnosele verslaggewer, gevra het. Dán het hy die regte ding gedoen – sy hoeke self gekies en dan sommer so geklik-klik-klik.

Só sal hy seker deur die meeste oudkollegas onthou word – die ou met die glimlag, sonder woorde; wat jou storie met sy fotografiese deelname kon red.

Aanvanklik persfotograaf vir Die Burger en Cape Times, het hy in koerantjoernalistiek die gesogte “go to”-vryskut geword. Kalm, gemaklik, nie baie woorde nie, skewe glimlag, goeie begrip van die storie.

Hy het agter oorloë aangevlieg, in gevaarsituasies beland, kon die rook en brande, dood en afgryse van mense op die slagveld op film vaslê. Sy foto’s uit die Savimbi’s Angola-versameling toon die vreeslike kante van oorlog: die doodmaak, en die lewe-soek van gewone mense in oorlogsones; aangrypend ook die foto’s van kindersoldate, byna te klein vir die groot wapens wat hulle moes dra. Dis moontlik oor hierdie “menslike” raaksien dat hy as die “lensdigter” beskryf is.

Sy Distrik Ses-reeks foto’s het nie net die fotografiese inkyk in die mense van daardie buurt vasgelê nie, maar ook bygedra tot ’n sterk beeldende geskiedenis van daardie hartseer verlede.

Die Guggenheim in New York het werk van hom – foto’s van hoofman Albert Luthuli. ’n Jaar gelede is ’n besonderse uitstalling van sy werk in Portugal gehou. Boeke van sy foto’s is gepubliseer.

Dikwels moes Cloete ook die goedige spot aanhoor van die Drie Grotes – die Breytenbach-broers, die een so sonderlik, en aantreklik, as die ander. Jan Breytenbach, soldaat, stigter van die gevreesde/beroemde 32 Bataljon in die sg. Grensoorlog; Breyten, digter, aktivis, Afrikaanse wêreldling; Cloete, soms sinies, die ou wat ’n slu grap op ’n sagte manier kon vertel.

Fotograwe het ’n eie oog. In ons land was en is daar uitstaande fotograwe, en van hierdie panteon sal Cloete Breytenbach deel wees.

Hy was al in sy leeftyd ’n ikoon – en hy sou kopskud, effens vererg wees oor hierdie beskrywing. Feit bly staan: Hy was, en bly, ’n ikoon in die beelde wat hy geskep het.

Cloete is in die nanag van 31 Mei vanjaar ná ’n hartomleiding oorlede. Sy dogter het na berig word vertel dat hy selfs ná die operasie gerusstellend geglimlag het.

You need to be Logged In to leave a comment.