Christi van den Heever (38) is verlede week in die Paarl as die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar aangewys.

Christi boer die afgelope 15 jaar vir Graaff Fruit en is die afgelope vyf jaar landgoed­bestuurder op Rietfontein in die Koue Bokkeveld.

In 2004 matrikuleer hy aan die Augsburg Landbougimnasium waar hy ook as hoofseun van die koshuis dien. In 2007 ontvang hy ’n diploma in Landboubestuur by CPUT.

Volgens Christi is die vernaamste veranderings wat hy in die boerdery gedurende die afgelope vyf jaar teweeggebring het om produksiepraktyke te verbeter, infrastruktuur te ontwikkel en die winsgewendheid van die maatskappy te verhoog. Hy skryf sy sukses aan harde werk, goeie beplanning en aanpasbaarheid toe.

“ ’n Goeie boer is iemand wat ’n verhouding met ons Hemelse Vader het, goeie toekomsvisie het en wat op menseverhoudings fokus. ’n Boer moet sy mense deel maak van sy sukses.”

Christi se langtermy­n­visie is om volhoubaar te boer en voortdurend te verbeter deur op hoogte van wêreldtendense te bly. Hy strewe ook om winsgewend en mededingend te wees.

Inus Oosthuizen, sameroeper van die beoordelaarspaneel, sê die paneel wil graag elkeen van die kandidate gelukwens met die geweldige hoë standaard van vanjaar se inskrywings.

“Elke kandidaat kan voorwaar trots wees op dit wat hy al in sy onderskeie besigheid vermag het. Julle is nie net ’n inspirasie vir die Wes-Kaap nie, maar ook vir ons hele land.”

Die beoordelaars is ook van mening dat Christi ’n uitmuntende ambassadeur vir die Wes-Kaap sal wees by die Toyota SA / Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie later vanjaar.

You need to be Logged In to leave a comment.