Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se regspan sal Vrydag vergader en ’n adviesdokument saamstel oor hoe skole die uitspraak oor godsdiens in hul skole moet hanteer.
Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, het vandeesweek aan Netwerk24 gesê dat hulle die dokument tydens die skoolvakansie bestudeer het en hulle ná more (Vrydag 28 Julie) vir skole riglyne sal gee oor hoe om die situasie te hanteer.
Dit kom nadat die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) Maandag briewe vir nog 14 skole gegee het omdat die skoolhoofde hulle glo aan ongrondwetlike godsdienspraktyke skuldig maak.
Laerskool Hugo Rust op Wellington is een van die skole.
Vroeër het Ogod aan ses skole soortgelyke briewe gegee waarna die hooggeregshof in Johannesburg op 28 Junie beslis het dat een geloof nie in ’n openbare skool bo ’n ander bevorder mag word nie.
“Dit gaan ’n tydjie vat voordat skole die nodige veranderings kan aanbring na aanleiding van die uitspraak,” sê Deacon. “Daar is ’n protokol wat skole moet volg.”
Hans Pietersen, voorsitter van Ogod, het by navraag gesê dat skole nie moet vra “hoekom ek?” nie.
“Dié skole is op die lys, want hulle oortree. En daar is duisende van hulle. Ons kom vir hulle,” sê hy.
Maar Deacon sê Fedsas is daar om die skole by te staan en te help.
“Ek dink Ogod is baie opportunisties, want die uitspraak is twee dae voor die skoolvakansie gelewer. Dus kon die skole nie hieraan werk nie. Hulle soek sensasie deur na die media te hardloop.”
Deacon sê Pietersen het die Christengeloof in sy visier.
“Hans wil sý wêreldbeskouing aan Afrikaanse skole opdwing.”
Maar Pietersen stem nie saam nie.
“Daar is twee redes waarom mense so kan dink: Die eerste is dat hierdie ’n waarskynlike nadraai van die Christelike nasionale onderwys is. Tweedens is die Christengeloof in skole iets wat deur die meerderheid opgedwing word.
“Daar is min openbare skole in die land waar Christene in die minderheid is. Dus is hulle die meerderheid en dwing hulle hul geloof aan ander op.”
Hy sê ook dat hy nooit gesê het dat godsdiens uit skole geneem moet word nie.
“Ek sê net dat een godsdiens nie bo ’n ander bevorder mag word nie.
“Vyftien persent van ons samelewing is ongelowiges. Indien jou skool se leuse is ‘Ons glo’, diskrimineer jy teen die 15% wat nié glo nie. Dáármee het ek ’n probleem.”
Hy wil godsdiens egter graag in skole hê.
“Dit is goed vir kinders om oor godsdienste te leer, maar dan moet hulle oor ál die verskillende godsdienste leer.
“Indien jou skool Hemelvaart wil vier, sê vir die kinders die wat wíl, kan dit saam vier. Maar dan moet die skool ook ander geloofsdae soos Diwali vier en kinders die opsie gee om dit by te woon.”
Oor skole met Christenskap in hul naam, soos die C&N (Christelike en Nasionale) Meisieskool Oranje, sê hy as dit deel vorm van die geskiedkundige naam, het hy nie ’n probleem daarmee nie.
“Ek weet nog nie regtig wat in die skool aangaan nie, maar kom ons aanvaar hulle voldoen aan die vereistes.
“Hulle het hul naam na C&N verander, dus het hulle ’n poging aangewend om nie hul geloof in ander se kele af te druk nie. Ek het nie ’n beswaar daarteen nie.” – Netwerk24