As iemand ses jaar gelede vir Chris Truter en sy gesin gesê het hy gaan vanjaar aan die Kaapstad-fietstoer deelneem, sou hulle seker gedink het dis ’n bogstorie.
Maar nee, dié jongman, wat op elfjarige ouderdom ’n hartoorplanting gehad het, het teen alle verwagtinge gegaan en dit verkeerd bewys deur die speke behoorlik te laat sing.
Celeste Truter, Chris se ma, vertel dat sy steeds daardie oomblik “klokhelder” kan onthou toe die dokter hulle meedeel dat Chris, vandag ’n matrikulant aan die Hugenote Hoërskool, hartversaking het en ’n nuwe hart nodig het.
“Dit is soos ’n rolprent wat teen helfte die spoed afspeel. Die gedagte was so oorweldigend dat ek nou nog terugdink en myself moet herinner dat dit werklik gebeur het; dat Chris ’n nuwe hart het.”
Tydens Celeste se swangerskap met Chris en sy tweelingbroer, Basson, het dokters reeds op 12 weke vasgestel dat hy ’n hartafwyking het.
Dit word hipoplastiese linkerhartsindroom genoem.
Die dokters het vir Celeste en haar man, Hugo, die opsie gegee om hul baba te groet om sodoende die ander baba se lewe te red, maar die ouerpaar het daarteen besluit.
Chris het sedert sy geboorte verskeie operasies ondergaan om sy lewensgehalte te verbeter. Alles het goed gegaan totdat die gesin in Junie 2017 op hul droomvakansie in Botswana gegaan het.
“Dit was baie spanningsvol. Chris se bloedsomloop het as gevolg van die hoër lugdruk in Botswana nie voldoende funksioneer nie en hy het 2 500 km van die huis af hartversaking gehad,” het Celeste op ’n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê.
Nadat die familie die skoknuus ontvang het dat Chris ’n hartoorplanting nodig het, is hy op ’n orgaanoorplantingslys geplaas.
“Hy was vir 201 dae op die oorplantingslys voordat ons die nuus van ’n skenkerhart ontvang het.”
Chris het toe ’n 12 uur lange operasie ondergaan, maar dit was glad nie maklik nie, onthou Celeste.
“Ja, dit was ’n marathon-sessie. Dit was ’n geweldige stresvolle tyd – ’n mens is dan in ’n bubble waar die fokus net op oorlewing is – vir jouself en vir jou kind. Jy kan dan net in dankbaarheid na die mense om jou kyk. Ons familie en vriende het ons gedra en ons gemeenskap in Wellington was op hulle knieë vir ons.”
Toe Chris vir haar sê hy wil graag aan die onlangse fietstoer deelneem, was haar hart gevul met baie emosies, waaronder opwinding, dankbaarheid en verwondering.
“Wanneer jy besef dat elke oomblik tel en dat jy self kan besluit hoeveel jy uit hierdie lewe gaan kry, is dit wonderlik om te sien dat jou kind ook besef jy kan enigiets aanpak. Die uitkoms is minder belangrik as die wil om deel te neem.”
Die fietstoer was ’n eerste vir Chris, want gewoonlik ry hy meestal bergfiets, maar hy het uitgesien na die uitdaging.
“Dit was my eerste keer; ek het dit baie geniet – dit is ’n belewenis om saam met so baie mense fiets te ry. Gelukkig was die weer lekker!
“Ek wou baie graag rugby speel, maar ongelukkig mag ek nie. Ek het ook vir ’n tyd hokkie gespeel, maar fietsry is my gunstelingsport.”
Vir hom is daar geen verskil tussen sy “ou hart” en “nuwe hart” nie, maar hy spot dat hy en die nuwe hart wel goed oor die weg kom.
“My gesondheid is goed en ek word al hoe sterker en daarom is dit vir my so lekker om aan sport deel te neem. Ek is baie lief vir 4×4-avonture en die natuur. Ek wil moontlik ná matriek na ’n veldskool gaan.”
Chris sal vir die res van sy lewe elke dag anti-verwerpingsmedikasie moet neem, sê Celeste, asook ’n jaarlikse biopsie om die verwerping te bepaal en sodoende die medikasie te bestuur.
Die familie is ook nog in kontak met die skenker se familie.
“Ons weet dat dit ’n meisie van 17 jaar uit Welkom was wie sy hart geskenk het. Ons het gereelde kontak met haar ma en haar suster en dit bring vir ons baie vreugde om Chris se mylpale met hulle te kan deel.”
Ten spyte van alles wat dié jongman in die lewe ervaar het, pak hy elke dag aan soos ’n avontuur en volg sy hart se begeerte.