Die toneel Sondagoggend in die Lovers Lane- informele nedersetting waar sewe hutte die vorige aand in ‘n brand vernietig is.Foto: Rasaad Adams


Die Chicago-gemeenskap aan die ooste van die Paarl is die afgelope week geruk deur verwoestende brande wat Saterdagaand die lewe van een persoon by die Lovers Lane- informele nedersetting en Dinsdagoggend drie gesinslede by ’n afsonderlike brand naby die Rietbok-woonstelle geëis het.

Altesaam 49 mense, onder wie vyf kinders, is Saterdagaand dakloos gelaat toe ’n brand by die Lovers Lane- informele nedersetting uitgebreek het en sewe strukture vernietig is.

Die oorskot van ’n man is tussen die puin ontdek, het die Drakenstein-munisipaliteit in ’n verklaring bevestig.

Die munisipale branddienste is omstreeks 21:30 na die toneel ontbied, maar is met hul aankoms met klippe bestook. Een van die brandweerwaens se vensters is deur ’n baksteen getref.

Volgens die munisipaliteit moes brandbestryders hulle aan die toneel onttrek en later met polisiebegeleiding na die gebied terugkeer om die brandende hutte te blus.

Dit is nie duidelik wie die klippe gegooi het en wat die motief daarvoor was nie.

In ’n ander voorval het drie lede van dieselfde gesin Dinsdagoggend in die nagtelike ure doodgebrand toe drie informele strukture naby die Rietbok-woonstelle, ook in Chicago, in vlamme gehul is.

Volgens die munisipaliteit is hulle Dinsdagoggend omstreeks 01:19 na die toneel ontbied.

“Met die brandweer se aankoms was drie strukture in ligte laaie. Die brand het ongelukkig die lewe van ’n pa, ma en hul kind geëis.

“Die oorsaak van die brand is nog onbekend en word deur die polisie ondersoek.

“Die Drakenstein-munisipaliteit betuig sy medelye aan die familie en geliefdes van die slagoffers,” lui ’n verklaring deur die munisipaliteit.

Volgens kapt. Anthony Sauls, ’n polisiewoordvoerder in Paarl-Oos, het die polisie met ’n geregtelike doodsondersoek in al twee voorvalle begin.

Die polisie ondersoek volgens Sauls ook ’n saak van saakbeskadiging wat verband hou met die brandweerwa wat met klippe bestook is.

Ian Cameron, verbonde aan die organisasie Action Society, het intussen die aanval op die brandweer ten sterkste veroordeel.

“Mense kla gedurig oor die gehalte van dienste wat deur nooddienste gelewer word en dat hulle nie gehelp word nie. In hierdie situasie het jy egter ’n gemeenskap wat hulp wegwys. Ons veroordeel hierdie aanval op die brandbestryders.

“Die verlies van lewe asook die skade wat weens die brand veroorsaak is, kon dalk verhoed gewees het indien die brandweer net toegelaat is om hul werk te doen.

“Ons verstaan gemeenskappe se frustrasie met dienslewering, maar hulle kan nie kla indien hulle ook bydra tot die probleem deur hulpbronne te beskadig en nooddienspersoneel se lewe in gevaar stel nie,” sê Cameron.


. Four people have died in two separate informal settlement fires in Chicago in the east of Paarl this week while fire engines were stoned.

Police have launched an investigation into both fires.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article