Links: Arendsvlei se Chelsea Thomas vertolk die rol van Amber in Spinners.Foto: Charlie Sperring


Indien jy die lokprent gesien het vir die oorspronklike Showmax-reeks Spinners, waarvan die première op 8 November plaasvind, het jy waarskynlik vrae oor die jong vrou wat haar spiere wys terwyl sy op die oop deur van haar tollende motor staan.

Arendsvlei se Chelsea Thomas vertolk die rol van Amber in Spinners, ’n opspraakwekkende reeks wat fokus op hoe tieners op die Kaapse Vlakte te midde van die toenemende bedreigings van bendegeweld ’n uitkomkans probeer vind deur by ekstreme motorsport betrokke te raak.

Thomas, oftewel Amber, ontwikkel dalk ’n romantiese verhouding met Ethan, die hoofkarakter, wat deur Cantona James vertolk word.

Albei hierdie jong, energieke karakters is in die Kaapse sepie Arendsvlei te sien.

Spinning is ’n gewilde motorsport op die Kaapse Vlakte en het ook ’n invloed op ander gebiede, soos onder meer die Paarl se “Stoepe”.

Die gebrul van motorenjins, tol en gepaardgaande rook van buitebande is vir talle ’n aanloklike aangeleentheid.

“Ek het in Kraaifontein grootgeword en gedurende my kinderjare sou ek altyd op ’n Sondag veld toe gaan. Dit sou wees waar al die motors bymekaargekom het om te spin. Ek het destyds net mans gesien spin. Ek het eers toe ek aan Spinners begin werk het, uitgevind vroue oorheers deesdae eintlik die sport,” het Thomas in ’n Showmax-verklaring gesê.

Sy sê haar stunt double, Kayla Olifant, is een van die ystervroue in hierdie sport.

“O my hemel! Kayla is absoluut vreesloos. Sy is ongelooflik. Sy is beslis een van die beste spinners in die land en sy is mal daaroor om te wen. Ek sê dit heeltyd: ek weet nie hoe Kayla dit doen nie. Die dinge wat sy doen, voel baie roekeloos, maar sy is mal daaroor. Jy kan die passie in haar oë sien.”

Thomas sê haar rol was vir haar ’n heel nuwe ervaring.

“Ek sal glad nie sê ek is soos Amber nie. Snaaks genoeg het ek my lisensie twee keer gedruip en ek is ’n angstige bestuurder. Om in daardie draaiende kar te wees, was beslis ’n eerste en ’n hoogtepunt vir my. Spinning is een van die belaglikste goed wat ’n mens kan doen, maar dit is soveel pret.”

Die reeks se première was onlangs in Parys, Frankryk, waar dit staande applous ontvang het. Dit is deur Joachim Landau vervaardig en is die eerste reeks uit Afrika wat gekies is om aan die film- en reekskompetisie by die Cannes-filmfees deel te neem.

Die reeks het drie pryse by die Dakar-reeks gewen, insluitend Beste TV-reeks, en het staande applous ontvang by ’n uitverkoopte Suid-Afrikaanse première by die Silwerskermfees.

You need to be Logged In to leave a comment.