Ek lees onlangs ’n klagte oor Checkers Van der Lingen in die Paarl.
Ek stem nie heeltemal saam nie, want ek het nog net altyd net goeie diens en produkte daar gekry en vind dit in die geheel ’n aangename winkel om my inkopies te doen.
Maar iets waarmee ek wel saamstem, is die arrogante Sixty60-afleweringsmotorfietsryers van hierdie maatskappy.
By die parkeerterrein van Van der Lingenplein swenk hulle heen en weer tussen die motors deur en ry sommer oor die sypaadjies om die booms te vermy.
Dan jaag hulle verder soos maniakke deur die strate, want dis juis wat Checkers belowe vir die goedere wat by hulle bestel is vir aflewering.
Hierdie 60-minute-mentaliteit moedig dus hierdie afleweraars aan om onverskillig te ry en klaarblyklik word hulle nie deur Checkers se hoofbestuur behoorlik gemonitor of verantwoordbaar gehou word nie.
Gereelde voorvalle sluit in die volgende:
. Motorfietsryers wat verkeersreëls ignoreer deur oor rooi ligte te jaag en stoptekens te ignoreer;
. Motorfietsryers wat teen hoë spoed in woonbuurte jaag, wat ’n groot gevaar vir voetgangers en ander padgebruikers inhou;
. Motorfietsryers wat nie hul motorfietse onder beheer het nie en ’n gebrek aan padveiligheid toon; en
. Die gebruik van voetpaadjies as ’n roete om verkeer te vermy, wat ernstige risiko’s inhou vir mense wat te voet beweeg.
Hierdie gedrag is nie net onverantwoordelik nie, maar stel ander padgebruikers, asook ons kinders wat buite speel of by die skool afgelaai word, in groot gevaar.
Ek wil weet of hierdie afleweringsmotorfietsryers in besit is van geldige bestuurslisensies en of hulle behoorlike opleiding ondergaan het. Dit blyk dat daar ’n groot gebrek aan dissipline en toesig is, wat ’n negatiewe indruk van Checkers as maatskappy skep.
En dan aan ons munisipaliteit in die Paarl – monitor jul verkeersowerhede hierdie onverskillige motorfietsryers?
Ek versoek vriendelik, maar dringend, dat hierdie saak ondersoek word en dat stappe geneem word om die bestuurspraktyke van die Sixty60-afleweringsmotorfietsryers te verbeter. Dit is noodsaaklik vir die veiligheid van almal op die pad dat hierdie ryers hul werk verantwoordelik en met respek vir die wet uitvoer.