‘n Groep van sowat 50 Charleston Hill-inwoners het ‘n petisie teen hul nuutste eiendomswaardasies by die Drakenstein-munisipaliteit ingedien. Foto: Google Earth

‘n Groep van sowat 50 inwoners van Charleston Hill in Paarl-Oos het ‘n petisie teen hul jongste eiendomswaardasies by die Drakenstein-munisipaliteit ingedien.

Die groep eis antwoorde oor hoekom sommige huise in hul gebied se waarde met tussen 80% en 134% die afgelope vyf jaar gestyg het.

Dít terwyl die munisipaliteit aangevoer het dat residensiële eiendomme se waarde met die jongste waardasierol met gemiddeld 60% gestyg het.

Een eiendom in Rosarystraat, wat in 2020 teen R1,1 miljoen gewaardeer is, het nou tot R2,5 miljoen gestyg.

Benewens die petisie het elk van die inwoners ook individuele besware teen die jongste waardasies ingedien.

Die sperdatum vir sulke besware was 24 Maart.

Die munisipaliteit se onafhanklike waardeerder het nou tot 29 April om al die besware na te gaan.

‘n Inwoner wat ter wille van die onafhanklikheid van die appèlproses anoniem wil bly, het aan Paarl Post gesê “iets is net nie pluis nie”.

“Ons het eiendomme in ‘n meer gesogte gebied soos Paarl-Wes met eiendomme met dieselfde grootte in ons gebied vergelyk. Dit maak net glad nie sin hoe daar so ‘n groot verskil in die waarde is nie. ‘n Mens sou eintlik dink dit moet andersom wees.

“Ons het vroeg in Maart op ‘n openbare vergadering met die munisipaliteit alreeds gevra dat die waardeerder uitkom na die gebied en verduidelik hoe die waarde bepaal is,” sê die inwoner.

Volgens hom woon daar heelwat bejaardes in Rosarystraat.

“Hierdie is almal pensioenarisse wat nou moontlik meer eiendomsbelasting gaan betaal. Ons verstaan dat die munisipaliteit glo onderhandel het om sekere vergunnings te maak, maar die feit bly staan – hoe duurder jou eiendom, hoe meer belasting gaan daar van jou verwag word om te betaal.”

Bradley Brown, finansiële hoof van die munisipaliteit, het by navraag bevestig dat die petisie op 28 Maart ontvang is.

“Aangesien die Wet op Eiendomsbelasting nie kollektiewe besware toelaat nie, moes elke inwoner ‘n individuele beswaar indien, wat hulle ook gedoen het. Elk van hierdie besware sal deur die aangestelde waardeerder beoordeel word.”

Brown sê indien ‘n inwoner nie tevrede is met die uitslag van die waardeerder se beoordeling nie, het hy/sy die reg om appèl aan te teken.

“Appelle word aangehoor deur die Waarderingsappèlraad, wat deur die Wes-Kaapse regering aangestel word. Die raad bestaan uit ‘n prokureur (wat as voorsitter dien) en drie professionele waardeerders om ‘n regverdige en deursigtige proses te verseker.”

In sy kopsepbegroting vir die 2025-’26-boekjaar het die munisipaliteit aangekondig dat eiendomsbelasting op residensiële eiendomme met 7,2% sal styg.

Dit volg nadat die munisipaliteit ‘n “geskiedkundige ooreenkoms” met die departement van korporatiewe regering en tradisionele sake (CoGTA) bereik het om eiendomsbelasting vir residensiële eienaars tot 12,5% in die nuwe boekjaar te beperk.

CoGTA doen ‘n oorsig vir munisipaliteite oor hul implementering van die Wet op Eiendomsbelasting.

Ingevolge dié ooreenkoms sal eiendomme met ‘n waarde van R350 000 en minder geen eiendomsbelasting betaal nie.

Die munisipaliteit het ook onderhandel vir pensioentrekkers ouer as 60 om outomaties ‘n 5%-korting op eiendomsbelasting te kry.

Dié met ‘n bewese maandelikse inkomste van R35 000 of minder sal ‘n bykomende korting van 10% ná aansoek en goedkeuring ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article