Die drie beskuldigdes tydens ‘n vorige hofsaak in die Paarl-landdroshof. Van regs na links staan Keaton Johnson, Bradley Mamani en Theodore Qatha. Foto: Rasaad Adams

Die moordsaak van die 16-jarige Chanelle Plaatjies van die Paarl sal van volgende jaar in die hooggeregshof aangehoor word.

Die verwikkeling in die hofsaak is Donderdag (27 November) in die Paarl-landdroshof bevestig toe die drie beskuldigdes – Keaton Johnson, Bradley Mamani en Theodore Qatha weer verskyn het. Die drie verskyn weer op 29 Januarie 2026 in die landdroshof wanneer die nodige verdere prosesse gevolg word, papierwerk afgehandel word en die saak amptelik na die hooggeregshof oorgeplaas sal word.

Die uitstaande toksikologie-verslae is ook afgehandel en by die hof ingedien.

Chanelle van Smartie Town in Paarl-Oos, se famillie het haar laas op 14 Mei vanjaar lewend gesien. Haar familie het haar lewelose liggaam op 2 Junie in ‘n vlak graf in ‘n bebosde gebied agter die Allandale-gevangenis op die dorp gevind. Volgens Chanelle se familie was sy en Johnson ten tyde van haar dood in ‘n kortstondige romantiese verhouding.

Die tiener se familie het ook voorheen aan Paarl Post gesê die soektog het in die gebied waar Chanelle gevind is, voortgegaan nadat Johnson na bewering vanuit die gevangenis laat weet het hy het Chanelle vermoor en dat haar familie haar daar moet gaan soek.

Hy is ‘n paar dae voordat Chanelle se lewelose liggaam opgegrawe is, op ander onverwante klagtes gearresteer. Tydens ‘n vorige hofverskyning het dit ook aan die lig gekom dat Johnson in 2022 gearresteer en aangekla is vir die moord op Jaco Swartz in Willemstraat in Smartie Town.

Die saak word in die Paarl-streekshof verhoor. Johnson was vir meer as twee jaar in aanhouding en is vier maande voor Chanelle se verdwyning op borgtog vrygelaat.

Met die feesseisoen wat voorlê was Hester Plaatjies, Chanelle se ma, duidelik hartseer tydens die hofverrigtinge. Sy het aan Paarl Post gesê: “Dit is vir my moeilik want dit is die eerste Kersfees wat voorlê na Chanelle se afsterwe.”

Die drie beskuldigdes bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article