Die drie verdagtes in die moordsaak van die 16-jarige Chanelle Plaatjies het Donderdag (26 Junie) hul tweede hofverskyning gemaak in die Paarl-landdroshof vir borg informasie.
Keaton Johnson (19), Bradley Mamani (25) en Theodore Qatha (31) is aangekla vir die tienermeisie se moord. In die klagstaat voer die staat aan dat die drie vir Chanelle op 14 Mei vanjaar vermoor. Sy is dood verwurg en haar lewelose liggaam in ‘n vlak graf begrawe. Volgens die staat is dit ‘n voorbedagte moord en sal die vrylating van die verdagtes teen gestaan word.
Dit is ook in die hof bekend gemaak dat al drie verdagtes ‘n kriminele rekord het. Qatha (beskuldigde 1) het dwelm verwante skuldigbevindings en Mamani (beskuldigde 2) het twee afsonderlike skuldigbevindings – aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Johnson (beskuldigde 3) het tans twee sake wat in die streekshof nog aan die gang is. Dit is ook ‘n moordsaak en ‘n vuurwapen verwante aanklagte.

Chanelle, van Smartie Town in Paarl-Oos, is op 14 Mei laas lewend gesien deur haar familie. Haar lewelose liggaam is op 2 Junie gevind in ‘n vlak graf, in ‘n bebosde gebied agter die Allandale-gevangenis, in die Paarl. Die familie van Chanelle het voorheen gesê die soektog het juis in die gebied voortgegaan, waar Chanelle gevind is, nadat Johnson na bewering vanuit die gevangenis laat weet het hy het vir Chanelle vermoor en dat haar familie haar moet gaan soek.
Hy is ‘n paar dae voordat Chanelle se lewelose liggaam opgegrawe is op ander onverwante klagtes gearresteer. Die familie het bevestig dat Chanelle en Johnson ten tyde van haar dood in ‘n romantiese verhouding was en dat hulle vir hom tydens die eerste hofverskyning vir die eerste keer gesien het.
Buite die hof sê Hester Plaatjies, Chanelle se ma, dis asof sy in haar geestesoog kan sien hoe haar kind gemartel is tydens die laaste minute van haar lewe.
“Ek glo en vertrou op die Here dat die regverdigheid gaan geskied.”
Chanelle is die afgelope Saterdag (22 Junie) ter ruste gelê. Samual Jacobs, Chanelle se pa, sê die hartseerste vir hom is die feit dat sy dogter reeds begrawe was toe hulle haar gevind het.
“[Haar begrafnis] het dinge net meer oopgekrap. Net vir die feit dat sy klaar begrawe was. Ons het haar wel gekry en toe moet ons haar weer gaan begrawe. Dit is baie hartseer.”
Nicolene Plaatjies, Chanelle se ouer suster, sê sy kan nie beskryf die emosies wat deur haar gegaan het toe sy vir Chanelle in die kis sien lê nie. Net die nabye familie was toegelaat om haar liggaam te besigtig.
“Dit was te seer. Jy sien nie dieselfde gesig nie. Jy sien iemand anders, maar in daai prentjie kan jy sien dat dit is Chanelle. Dit was vir my te hartseer om verder te kyk hoe sy lê daar.”
In tussen het Mamani en Johnson hul borgtog aansoeke laat vaar. Qatha sal Dinsdag (1 Julie) voortgaan met sy borgtog aansoek wanneer die drie weer in die hof verskyn.
You must be logged in to post a comment.