Slegs twee jaar gelede het Canan Moodie nog by die Hoër Landbouskool Boland agter die skoolbanke gesit. Die afgelope paar dae het dié jong Bolander egter as ’n nasionale held uitgestyg ná sy pragdrie in die Springboktrui teen SA se aartsvyande, die Wallabies.
Moodie het Saterdag sy buiging in die groen-en-goud gemaak, en op net 19-jarige ouderdom maak dit hom die derde jongste Bok nog.
En Saterdag was daar nie ’n droë oog onder die Moodie-familie van die Paarl en hul vriende nie toe Canan in sy Springboktrui op die veld in Sydney uitdraf en met die hand styf teen die bors die volkslied sing.
Maar toe hy daardie wonder-drie gaan druk, het ’n uitbarsting van trots behoorlik deur die strate van Paarl-Oos weergalm.
Tydens ’n telefoniese onderhoud vandeesweek met Canan se ma, Chantel, kan ’n mens net hoor hoe bars sy steeds van trots oor haar seun.
“Toe Canan my op 8 Augustus bel en sê hy is vir die Springbokspan opgeroep, kon ek dit nie glo nie. Ek het eers gewonder of ek reg gehoor het.
“Maar ek kan nie in woorde beskryf hoe dit gevoel het om hom Saterdag uiteindelik in sy Springboktrui op die veld te sien uitdraf nie, en dan nog daardie wonderlike drie.”
Moodie se posisionele spel was Saterdag puik en hy het sy direkte teenstander, die Wallabies se Marika Koroibete, wat die Bokke die vorige week met sy aanvallende spel laat bontstaan het, geen ruimte gegee nie.
Die kersie op die koek was egter Moodie se puik drie kort voor rustyd, wat die rugbywêreld laat regop sit het.
Moodie het ’n hangskop van die Springbok-skrumskakel, Jaden Hendrikse, briljant reg voor Koroibete se neus weggeraap en is doellyn toe sonder dat ’n Wallaby naby hom kon kom.
Moodie, wat in die Paarl gebore is, was op Klein Boishaai waarna hy self gekies het om sy hoërskoolloopbaan by Boland Landbou voort te sit nadat bykans elke vooraanstaande rugbyskool in die land hom aanbiedinge gegee het om vir hulle rugby te speel.
Hy het vinnig tot die o.16A-rugbyspan gevorder, waarna hy vir Landbou se eerstes uitgedraf het. Hy het ook ’n plek in die WP-Akademieweek losgespeel, en in gr. 11 en gr. 12 is hy ook in die o.19A-span opgeneem, wat ’n groot prestasie op sy ouderdom was.
Hy het in 2020 gematrikuleer en in 2021 amptelik by die Bulle aangesluit, waar hy groot vordering gemaak het.
Boland Landbou se hoof van rugby, Oloff Bergh, het gesê die skool is ongelooflik trots op hom.
“Die skool se WhatsApp-groepe was ongelooflik besig ná daardie drie van hom. Ons het nooit gedink hy gaan so vroeg ’n Springbok word nie, maar ons het geweet hy het die potensiaal om eendag professioneel rugby te speel.
Bergh het gesê Moodie is ’n spanspeler, werk ongelooflik hard, is baie nederig en is bereid om te leer.
“Dit is eienskappe wat jy nodig het om dit op die hoogste vlak te maak. Op skool was Canan nie net ’n goeie rugbyspeler nie, maar hy het ook op akademiese gebied uitgeblink.
“Ek is dankbaar vir die geleentheid wat die Bulle hom gegee het en bly hy is by Jake White, wat weet hoe om met jong talent te werk.
“Ons wens Canan net die beste vir die toekoms toe en glo hy gaan nog baie toetse vir SA speel.”
Dit is dus duidelik dat alle oë op die jong Paarliet, wie se rugbyloopbaan maar net in die beginstadium is, gaan wees.. Springbok ‘wonder-kid’ Canan Moodie has become an overnight rugby sensation after his ‘out the books’ try against the Wallabies on Saturday.


