Kunswerke in liefde geskep, in liefde gehang, en in liefde gedeel – dít is die Cadeautje-uitstalling met werke van 17 kunstenaars wat van 18 November tot 31 Januarie 2024 in die Breytenbach-galery by die Breytenbach-sentrum in Wellington te sien is.
Die bekende akteur en stemkunstenaar Nic de Jager het die besonderse groepuitstalling Saterdag 18 November geopen.
Die uitstalling sluit diverse werke in – van olie op doek en ink- en houtskoolsketse tot borduurwerk op ontwerperslap, multimedia- en keramiekwerke. Die deelnemende kunstenaars is Peter van Straten, Paula van Coller, Theresa Jo, Sharle Matthews, Bastiaan van Stenis, Zonia Scheffer, JP Meyer, Carin Dorrington, Susan Smuts, Joubert Stander, Kobus Coetzee, Jacqui VerLoren, Mitch de Villiers, Elsibe McGuffog, Elcke Neethling, Grete Gagiano en Stiaan Theron.
Die kurator, Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee, verduidelik “cadeautje” is ’n Nederlandse verkleiningsvorm van die Franse woord “cadeau”, wat in albei tale ’n geskenk beteken en in Afrikaans ook as ’n “kado” bekend is. Die uitstalling vergestalt volgens Erasmus-Coetzee ook die fokus van die Breytenbach-kuns- en kultuursentrum, naamlik “om te gee, aan te gee en nooit op te gee nie”.
“Met die Cadeautje-uitstalling is werke in liefde geskep en die oorkoepelende boodskap is om skoonheid, in watter vorm ook al, in liefde te deel,” verduidelik Coetzee. “Die Breytenbach-galery streef daarna om geleenthede te skep vir kunstenaars om uit te stal, hetsy hulle splinternuut in die mark is of reeds goed gevestig is. Ons mikpunt is om kunswerke toeganklik te maak vir mense wat meer wil leer oor kunswaardering, kunsliefhebbers wat plaaslike kunstenaars in hierdie uitdagende tye wil ondersteun en mense wat in bekostigbare kuns wil belê.”
Erasmus-Coetzee bied gereeld interessante gesprekke in die kunsgalery aan om die wisselende uitstallingtemas verder te belig. Só het die bekroonde woordkunstenaar en akteur Chris van Niekerk Saterdag 9 Desember “Lafenis van die liefde”-gedigte van Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström, Boerneef, Yeats en ander digters in die galery voorgelees.
Volgens Erasmus-Coetzee is daar vele versteekte juwele, wat ’n daguitstappie na Wellington die moeite werd maak. “Die Breytenbach-sentrum lê in die hart van die dorp met ’n pragtige digterstuin, ’n wonderlike boekwinkel vir tweedehandse leesstof, ’n teater, ’n koffiewinkel asook die galery en galerywinkel,” sê Erasmus. “Kom besoek ons gerus by Burgerstraat 16 vir ’n bekostigbare ‘cadeautje’ vir iemand se Kerskous. En dan is daar nog ons uitsonderlike dorpsmuseum, Chris van Niekerk se oudhede-winkel en wonderlike wynplase.”
Die Breytenbach-sentrum is oop vanaf Maandae tot Vrydae 09:00 tot 17:00 en Saterdae van 09:00 tot 13:00. Die sentrum is reg deur die feestyd tot 23 Desember oop, dan weer van 27 tot 30 Desember, en dan is dit weer volstoom vanaf 2 Januarie 2024 oop.. Besoek www.breytenbachsentrum .co.za, volg @breytenbachgalery en @breytenbachsentrum op Facebook en Instagram, of kontak vir Erasmus-Coetzee by galery@breytenbachsentrum .co.za of via WhatsApp by 083 415 0002 vir nog inligting.


