Skole in verskeie distrikte in die Wes-Kaap, insluitend die Kaapse Wynland, moes verlede week noodgedwonge hul deure vir twee dae gesluit hou toe sterk stormweer op dié provinsie toegesak het.
Nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens verlede week ’n vlak 8 waarskuwing vir stormweer uitgereik het, het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) besluit om liewer nie enige kanse te waag met die veiligheid van leerders nie.
Dus is skole verlede Donderdag (11 Julie) en Vrydag (12 Julie) gesluit.
“Hierdie besluit is gegrond op die belange van leerders en onderwysers se veiligheid in die Overberg- en Kaapse Wynland-onderwysdistrikte, veral met betrekking tot die reis na en van skole,” het David Maynier, die LUR vir onderwys, in ’n persverklaring gesê.
“Uitgebreide reënval het wydverspreide skade aan paaie en oorstromings veroorsaak, wat skoolvervoerroetes beïnvloed.
“ ’n Aantal skole het ook vloedskade by hul persele aangemeld.”
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, sê teen verlede Vrydagmiddag (12 Julie) het 299 skole in die Wes-Kaap die een of ander vorm van skade of ontwrigting aangemeld, met 121 skole waar die skade as dringend beskou is.
“Die WKOD se infrastruktuurspan werk hard om elke navraag so vinnig as moontlik te ondersoek,” sê Hammond.