Suid-Afrikaners kan maar gereed staan om binnekort aansoek te moet doen vir ’n nuwe, bygewerkte rybewys.
Fikile Mbalula, die minister van vervoer, het onlangs ’n verklaring uitgereik waarin verduidelik word dat ’n nuwe stelsel in werking gestel sal word vir die uitreiking van die nuwe rybewyse aan voertuigbestuurders.
Die rede vir hierdie besluit is om bestaande rybewyse op internasionale standaarde te kry deur gebruik te maak van meer moderne tegnologie, het Mbalula gesê.
Die veranderings sal eers in die Staatskoerant gepubliseer word om die departement in staat te stel om die verkrygingsproses vir die nuwe produksie-infrastruktuur in Oktober vanjaar te begin.
Die veldtog vir bygewerkte rybewyse sal van 1 November 2023 tot 31 Maart 2024 van stapel gestuur word, het Mbalula gesê.
Die minister het ook verduidelik dat die huidige toerusting wat gebruik word om rybewyse te vervaardig, van 1 April 2024 af nie meer gebruik sal word nie.
’n Oorgangsperiode van vyf jaar sal egter van die ou rybewysstelsel na die nuwe rybewysstelsel geld.
Die huidige “lisensiekaarte” sal tot 31 Maart 2029 as geldig erken word.

