Die Swart Maandag-beweging, wat landwyd bewusmaking doen oor plaasmoorde en plaasaanvalle, het die afgelope naweek by die Dal Josafat-stadion byeengekom.
Dié beweging het in 2017 tot stand gekom ná die wreedaardige moord op die Klapmuts-wynboer Joubert Conradie.
Hy is op 24 Oktober 2017 in die oggendure aangeval deur rowers wat toegang gekry het tot die gesin se huis op die plaas Uitkyk. Die verdagtes het deur een van die kamervensters binnegekom.
Conradie het onraad vermoed toe hy geluide in die huis gehoor het en met sy pistool ondersoek gaan doen het.
Marlene, die slagoffer se vrou, het daarna tussen agt en tien skote gehoor afgaan. Sy het op Conradie se lyk afgekom waar hy in die gang in sy eie bloed gelê het.
Hy is na Mediclinic Stellenbosch gejaag, maar het gesterf terwyl dokters tevergeefs sy lewe in ’n noodoperasie probeer red het.
Niemand is ooit vir die moord in hegtenis geneem nie.
Die Swart Maandag-beweging het ontstaan op 29 Oktober 2017, die Maandag ná die moord op Conradie. Mense van reg oor die land het in verskeie dorpe saamgetrek om hul hartseer, frustrasie en woede oor die sinlose dood van Conradie en vele ander boere te toon.
Vanjaar se Swart Maandag-geleentheid het Saterdag 29 Oktober plaasgevind en die tema van die dag was “Vat saam met plaasboere hande”.
Verskeie boere, gesins- en familielede wat geliefdes in ’n plaasmoord verloor het, het die geleentheid bygewoon.
Die atmosfeer was baie somber by tye.
Heidie Taljaard, wie se ouers en suster vermoor is, en Chnay Coetzer, wie se broer vermoor is, was ook teenwoordig.
“My ouers, Dan (83) en Breggie (73) Brand, en suster Elzabie Brand (54) is op 26 Julie 2020 in Hartswater in die Noord-Kaap vermoor,” sê Taljaard.
“Jou lewe gaan nooit weer aan nie. Jy bly vashaak by wat met jou mense gebeur het. Elke dag as daar ’n klein krisis is, voel dit of alles tot niet gaan, want dit voel of dit net nie meer jy is nie.
“Jou lewe staan stil en behalwe dit het jy al die dinge wat in jou kop aangaan en jy weet waardeur is jou mense.”
Die Hartswater-moorde, soos wat daar na dié gru-dade verwys word, se hofverhoor het onlangs in die hooggeregshof in Kimberley begin.
Die dood van Gavin Wolfwinkel (32), Coetzer se broer, het haar hele lewe tot stilstand gebring. Hy en ’n werker, Lucky Sithome (30), is vermoedelik deur aanvallers doodgeskiet op 15 November 2015 op ’n plaas in Boschkop in die ooste van Pretoria.
“Ons moet opstaan vir die mense wat nie meer stemme het nie. Ons moet hul stemme wees en vir hulle baklei. Iewers moet die plaasmoorde stop.
“Die afgelope sewe jaar is dit ek en twee private speurders wat die moord ondersoek.
“Ek sit met alles en weet presies wie hulle is.
“My broer is vermoor twee weke voor sy troue. Sy dood het my hele lewe consume en ek het my vrou in die proses verloor. Ek het nog nie in die sewe jaar tyd gekry om oor my broer se dood te rou nie.”
Die rieldansers van Nederburg Primêr het gesorg vir ’n bietjie vermaak en het die stof – tussendeur die trane van die bywoners – laat staan.





