Ongelukkigheid heers onder inwoners van Charleston Hill in Paarl-Oos nadat vier honde deur ’n swerm bye aangeval is en daarvan gevrek het.
Die bye word glo in korwe in die agterplaas van een van hul bure aangehou. Toe die inwoners die man konfronteer, het hy ontken die bye behoort aan hom. Die man het egter aan een van die ontstelde inwoners erken hy het wel korwe in sy erf, en dit staan al vir jare leeg, maar aggressiewe bye het hulle onlangs daarin kom vestig.
Die vrees het nou ontstaan dat die bye nog verdere probleme kan veroorsaak deur dalk mense ook aan te val. Die aanval waarin die honde doodgesteek is, het Saterdag gebeur. Een vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy het twee honde verloor.
“Ek is baie ontsteld. Ek moes ná die aanval met my honde na ’n veearts jaag. Dit was te laat. Die honde is so erg gesteek dat hulle in skok gegaan het. Ek was verplig om my honde te laat uitsit, want hulle sou dit in elk geval nie gemaak het nie; hulle sou net verder gely het.”
Nog ’n inwoner wie se jack russel ook doodgesteek is, was by die buurman op wie se erf die bye hulle gevestig het, en het hom gevra of hy die hondjie sal begrawe.
“Die man sê hy dra nie verantwoordelikheid vir wat die bye gedoen het nie. Indirek was dit sy optrede wat daartoe gelei het. Toe ek hom gaan vra of hy my hond gaan begrawe het, het hy gesê hy het die hond in ’n sak gegooi en die vullisverwyderaars sal dit gaan dump.”
Die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassers is Sondag ingelig en na die gebied ontbied.
Gerald Esau, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het die besoek aan die man wat die korwe besit, bevestig. “Die inligting wat ontvang is, was dat ’n swerm bye in ’n blombedding voor ’n huis ingetrek het. Die bye is deur kinders met klippe bestook en het verwild geraak, vandaar die aanval op die honde.
“Ná die aanval op die honde het die bye in die byekorwe, wat op die perseel gestoor was, gaan skuil. Met die beamptes se besoek is gevind die bye is nog op die perseel en die honde is reeds die vorige dag deur die bye aangeval. Die bye is Sondag ná die wetstoepassers se besoek onmiddellik verwyder. Die klaer is van die ondersoek ingelig en dat die bye die aand in die donker verwyder sou word. Die verwydering van die bye is Maandag (3 Oktober) bevestig.”
Esau sê inwoners mag nie enige diere – troeteldiere uitgesluit – sonder die skriftelike toestemming van die munisipaliteit aanhou nie.
“Die aanhou van diere word gereguleer ingevolge munisipale ordonnansie 4 van 2007, wat handel oor die voorkoming van wat ’n openbare oorlas is en die aanhou van diere. Ingevolge die ordonnansie mag die munisipaliteit die aantal byekorwe bepaal wat op ’n eiendom aangehou mag word. ’n Aansoek om diere aan te hou, moet op die voorgeskrewe aansoekvorm aan die munisipaliteit gerig word en moet vergesel word van die nodige ondersteunende dokumentasie.
“Vir navrae in dié verband kan die wetstoepassingsafdeling by 021 807 4741 gekontak word.”
Esau sê ook as inwoners enige inligting het van mense wat bye sonder toestemming aanhou, kan die Drakenstein Smart Safety Network DSSN-beheerkamer by 021 807 8508 (alle ure) gekontak word om dit aan te meld.
- Residents of Charleston Hill in Paarl-East are very unhappy after four dogs were attacked by a swarm of bees and died as a result of their injuries.


