Die vroue van Buzy Bees gee om en is betrokke by verskeie inisiatiewe in Wellington en die Paarl.


’n Groep vroue – deel van die organisasie Buzy Bees – beywer hulle om ander vroue in die gemeenskap op te lei en met praktiese vaardighede te bemoedig.

Gwen Thöle, die voorsitter van Buzy Bees, vertel dié organisasie is 15 jaar gelede op die been gebring.

  • “Buzy Bees is ’n organisasie wat regtig uitreik en omgee en ook vroue met verskillende vaardighede oplei. Ons skep selfs werk deur die vaardighede waarin ons die vroue oplei. Ons leer hulle onder andere borduurwerk en verf. Ons het nou onlangs pragtige gemaak en ons doen ook naaldwerk.

“Ons leer ook vir vroue hoe om ekonomiese disse te maak.

“Ek is die voorsitter. Ons het aanvanklik eers in Wellington begin en het oor die jare na Groenheuwel in die Paarl geskuif. Ons is regtig besig om goeie vordering in die gemeenskap te maak.

“Ons het ook skoolklere vir ’n skool in die gebied gegee. Hierdie jaar gaan ons ’n finansiële skenking aan twee organisasies gee – Kansa en ’n kleiner plaaslike organisasie wat mense met kanker ondersteun.”

Die vroue het ook ’n hart vir die gemeenskap en reik graag uit wanneer hulle sien daar is nood, vertel Thöle.

“Ons deel elke jaar in die gemeenskap sop uit en ons gaan weer hierdie jaar ook komberse aan diegene wat dit nodig het, uitdeel. Ons gee gedurig ook kos in die gemeenskap wanneer ons sien daar is ’n behoefte.

“Ons doen liefdadigheidswerk ook. Ons was verlede jaar by ’n plaaslike ouetehuis waar ons twintig bejaarde vroue identifiseer het en vir elkeen ’n geskenkboksie met toiletware gegee het. Hierdie jaar beplan ons om dit in Oktober weer te doen.”

Thöle meen die groep help nie net vroue om nuwe vaardighede aan te leer nie, maar hulle is ook ’n ondersteuningsnetwerk vir mekaar.

“Die vroue betrokke by Buzy Bees kom elke Dinsdag van 10:00 tot 12:00 bymekaar. As vroue sien ons uit na daardie tyd, want ons ondersteun mekaar ook in baie opsigte. Vroue gaan deur emosionele goed en somtyds is die groep net daar om mekaar te support.

“Ons beplan om volgende jaar ’n klein resepteboek vir die vroue uit te bring. Mense kan dus daarna uitsien.”

. Buzy Bees hou Saterdag 17 Augustus ’n middagtee en die geld wat ingesamel word, sal ten bate van kankerbewusmaking aangewend word. Die bekende televisiepersoonlikheid Ingrid Jones sal as gasspreker optree. Kaartjies verkoop teen R170 per persoon en sluit heerlike eet- en drinkgoed, asook vermaak in lewende lywe in.

Die middagtee is ’n geleentheid vir inwoners om die pragtige handewerk van die Buzy Bees-lede te sien. Dit sal uitgestal en verkoop word.

Die geleentheid vind in die Paarl-gemeenskapsaal plaas.

. Kontak Gwen Thöle by 076 349 5542 vir meer inligting, om Buzy Bees te ondersteun of betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.