Inwoners moet weet wat hul regte is. Die grootste oorsaak van misdaad is oningeligte en onverantwoordelike inwoners.
Dit is die mening van Attie Barnard, oudpolisieman en dryfkrag agter die Wellington-buurtwag wat sowat ’n jaar gelede op die dorp begin is.
Maar die buurtwag is nie soos ander buurtwagte nie – hul hooffokus is om inwoners in te lig oor wat in die dorp aangaan.
Barnard sê hulle het ’n aktiewe Whatsapp-groep wat 99% effektief is en het goeie skakeling met die polisie. “Die samewerking met die polisie is uitstekend.
“Daar is dan en wan nog ’n polisielid wat ’n verskoning het waarom hy nie ’n klag kan ondersoek nie.”
Daarmee verwys hy na polisiemanne wat nog klaers probeer intimideer om nie klagtes te lê nie deur hulle te laat dink dat daar niks van die ondersoek sal kom nie of dat hulle baie van hul tyd gaan moet afstaan om in die hof te wees.
“Maar dit moenie die idee skep dat dit alle polisiemanne is nie.”
Hy sê egter dit gaan hul volgende fokus wees om inwoners op te voed oor hul regte as inwoners en lid van die publiek.
“Ons wil ’n kanaal skep wat inwoners kan adviseer.”
Volgens Barnard wil hulle juis daarom weg beweeg van enige organisasie af en ’n burgerregtelike forum skep.
“Ons wil ons nie bind aan een spesifieke organisasie nie maar eerder in samewerking wees met verskillende organisasies.”
Barnard meen egter die enigste manier om werklik misdaad in die dorp hok te slaan is om die oorsprong daarvan aan te spreek, nie net die simptome nie.
Hy sê die probleem waarmee Wellington sit is gespesialiseerde misdaad. Dit beteken daar is ’n groep misdadigers wat net op een gebied “spesialiseer”. “Daar is byvoorbeeld ’n groep wat net mense teiken wat geld gaan bank of ’n groep wat net fokus op huisbrake soos die ‘Crowbar-gang’.”
Wat ’n groter uitdaging bied is tik- en alkoholverslawing in die gebied wat Barnard bestempel as die “grootste enkele gevaar”.
Volgens Barnard is die groter meerderheid van haweloses in die gebied aan tik of alkohol verslaaf en word hulle deur sindikate gebruik om in die gebied te opereer.
“Die ding met tik en dwelmverslawing is verslaafdes sal enigiets doen vir hul volgende fix. Hulle steel van hul eie ouers.”
Dit is juis om hierdie rede wat hulle gebruik word as die oë en ore van smokkelbase en bendeleiers wat hulle dan vir hul dienste vergoed, meen hy.
Barnard sê hy praat al vir die afgelope ses jaar met die Drakenstein-munisipaliteit oor die probleem van haweloses in die dorp, wat veral die middedorp en Victoria Park-gebied infiltreer, maar daar is tot op hede geen planne van die munisipaliteit om die probleem aan te spreek nie.
Hy staan vas by die beginsel dat indien die oorsaak nie aangespreek word nie gaan die probleem nooit opgelos word nie.
Daarby rus daar ook ’n verantwoordelikheid op inwoners, om nie onverantwoordelik op te tree nie. “Moenie die mense in jou huis innooi of kos gee nie.”
Hy sê dit gebeur ook dikwels dat goed gesteel word omdat mense hulle motorhuise of deure oop los. “Hoe gaan die polisie (dan) optree?”
Hy moedig inwoners aan om betrokke te raak in die gemeenskap en hul samewerking aan die polisie gee.
“Die belangrikste is om polisie te ondersteun. Baie mense het nog die houding dat ‘as ek nie daarvan weet nie of dit my nie affekteer nie gaan dit my nie pla nie’.
“As die gemeenskap nie gaan saamwerk nie is die polisie se hande afgekap.”
- Om meer betrokke te raak, kontak Barnard per e-pos by attie@wellingtoninfo.co.za
Gaan sluit ook aan by die groep “Wellington Stopmisdaad” op Facebook.