: Werkers besig om die nuwe veiligheidsheining by die Malanot Park-aftreeoord op Wellington op te rig. Foto: johan nel


Malanot Park, die aftreeoord langs Bainstraat in Wellington het tot dusver om veral twee redes die oog gevang.

Malanot Park spog met netjiese, ouwêreldse huisies met groen dakke en breë, diep stoepe en die park se huisies, anders as feitlik alle ander huise en woonstelle in Bainstraat, het geen veiligheidsheinings tussen die huise en die straat gehad nie. ’n Tamaai veiligheidsheining is egter die afgelope week tussen die oord en Bainstraat opgerig.

“Ons moes net eenvoudig die heining oprig,” sê Jan Louw, een van die bestuurslede van Malanot Park se eienaarsvereniging. “Misdaad het die afgelope paar jaar sterk toegeneem in Wellington en ons het gevind dat rondlopers snags deur die oord beweeg om by huise agter die oord te gaan inbreek.”

Die oord se eienaarsvereniging het lank alle moontlike soorte veiligheinings ondersoek voordat hulle op Beta-heinings, ’n splinternuwe soort veiligheidsheining wat plaaslik in die Paarl vervaardig word, besluit het.

Volgens Jan Louw, vertoon die Beta-heining nie alleen mooi nie maar dit is ook besonder sterk en ’n goeie afskrikmiddel vir iemand wat die terrein onwettig wil betree. Dit is ook heelwat goedkoper as enige van die ander veiligheidsheinings wat deur die bestuur ondersoek is.

Malanot Park se inwoners is opgewonde en baie tevrede met die nuwe heining. Volgens hulle kan hulle nou uiteindelik rustig in die laatmiddag op stoepe sit en koffie drink. Voor die koms van die heining het niemand meer veilig op die oop stoepe gevoel nie.

Daar word ook baie moeite gedoen om netjiese blomtuintjies agter die heining aan te lê en om meer bome tussen die straat en die huise te plant.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article