Zimbabwiese bus wat mense in sleepwa weggesteek het naby Hugenote-tonnel afgetrek

’n Bus wat Zimbabwiese burgers vervoer het, is vroeg vanoggend (6 Julie) naby die Hugenote-tonnel op die N1 deur wetstoepassingsbeamptes afgetrek, weens, na bewering, ’n tekort aan die korrekte dokumentasie om Suid-Afrika binne te gaan.

Die Mhiza-bus wat naby aan die Hugenote-tonnel afgetrek is omdat sy passasiers, waaronder meestal Zimbabwiese burgers, nie die nodige dokumentasie gehad het om die land binne te gaan nie.


’n Bus wat Zimbabwiese burgers vervoer het, is 6 Julie naby die Hugenote-tonnel op die N1 deur wetstoepassings­beamptes voorgekeer weens – na bewering – ’n gebrek aan die korrekte dokumentasie om Suid-Afrika binne te kom.

“Polisiebeamptes verbonde aan die Paarl-polisie was Saterdag omstreeks 05:00 naby die N1-hoofweg besig met patrollies toe hulle mense opmerk wat naby die Sonstraal-afrit van ’n passasiersbus afklim,” volgens AO Joseph Swartbooi, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie

Volgens hom het die bus ’n sleepwa gehad waar die polisiebeamptes toe ongedokumenteerde Zimbabwiese vroue en kinders binne-in die sleepwa ontdek het.

“Die [polisie] het die bus genader en ongedokumenteerde vroue en kinders binne-in die sleepwa wat aan die bus gekoppel was, ontdek.”

Volgens Swartbooi het ’n passasier toe ’n polisiebeampte met R50 000 probeer omkoop.

“Een van die passasiers het ingegryp en een van die polisie-beamptes ’n bedrag van R50 000 aangebied om die passasiers vry te laat.”

Volgens hom sal die ondersoek na die omstandighede na hierdie voorval deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI) gedoen word.

Paarl Post verstaan ook dat die 60-stiplekbus om en by 80 passasiers bevat het – buiten die vroue en kinders in die sleepwa.

Nadat die bus deur die polisie deursoek is, is dit toe na die Paarl-polisiekantoor begelei, waar dit in die parkeergebied oorkant die polisiekantoor langs die Bergrivier Boulevard moes wag.

Die bus, wat aan Mhizha Tours behoort, was op pad van Harare na Kaapstad.

Volgens die busmaatskappy se Facebook-profiel vervoer dié busdienste “passasiers en goedere” van Zimbabwe na Suid-Afrika.

Volgens ’n passasier met wie Paarl Post gesels het, het die bus passasiers wat by vriende of familie in Suid-Afrika sou kom kuier, vervoer.

Die bron beweer verder dat die passasiers nie van plan was om in Suid-Afrika te bly nie, maar slegs te kom kuier. Hy het egter niks gesê oor die vroue en kinders in die sleepwa nie.

Hy het erken dat sommige mense nie die korrekte dokumentasie, waaronder visums en paspoorte, gehad het nie.

Dit is onduidelik wat volgende sal gebeur en wanneer die burgers na Zimbabwe sal terugkeer.

In ’n mediaverklaring van die departement van binnelandse sake, gedateer 7 Julie, prys die DA-minister Leon Schreiber die Paarl-polisie vir die “uitvoering van inhegtenisnemings wat verband hou met beweerde oortredings” deur verskeie Zimbabwiërs.

Die verdagtes het die 8 Julie in die Paarl-landdroshof op aanklagte van voorkoming en bekamping van korrupte aktiwiteite, ’n misdryf ingevolge die Immigrasiewet, en voorkoming en bekamping van mensehandel verskyn, volgens Swartbooi.

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NPA), is altesaam 26 Zimbabwiese onwettige immigrante in hegtenis geneem, onder wie 24 passasiers en twee busbestuurders.

Volgens hom is die saak tot 15 Julie vir borgtoginligting uitgestel.

“Die 24 [passasiers] is apart aangekla van die twee bestuurders wat die 24 mense saam met 15 kinders vervoer het.”

Die kinders word apart van hul ouers in veilige plekke aangehou. 

You need to be Logged In to leave a comment.