Stephen Korabie, die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeester, het verlede Donderdag (27 November) beklemtoon veiligheid en toerisme is onlosmaaklik verbind en die sukses van die komende feestyd sal van samewerking tussen owerhede, die sake- en toerismesektor en inwoners afhang.
Hy het op ‘n Mayoral Connect-sessie met verteenwoordigers uit die toerisme- en veiligheidsbedryf gesê Drakenstein staan aan die vooraand van ‘n seisoen wat groot ekonomiese geleenthede én beduidende risiko’s inhou. “Die feestyd bring ‘n kragtige geleentheid vir ekonomiese groei, gasvryheid en werkskepping, maar dit kom ook met verhoogde uitdagings rondom openbare veiligheid, mobiliteit, verkeer en groot skares,” sê hy.
Hy het beklemtoon dat toerisme nie ‘n “bykomstigheid” vir die stad is nie, maar ‘n pilaar van die plaaslike eko- nomie.
“Geen toeris sal ooit sê: ‘Ek het ‘n wonderlike vakansie gehad omdat die slaggate opwindend was en die rommel agter die slaggate mooi gelyk het nie.’ Veiligheid, standaarde en bestendig- heid maak saak.”
Korabie het aangekondig dat die munisipaliteit vanjaar nie reaktief optree nie, maar vroegtydig voorbereid is met die Safer Festive Season-gereedheidsplan.
Hierde plan is volgens hom ‘n geïntegreerde bedryfstrategie wat op vinnige noodreaksie, volgehoue dienslewering, sigbare wetstoepassing en departementele koördinering fokus.
Kernvoorkeure in die plan sluit in die vermindering van padongelukke en beserings, verhoogde sigbare ontplooiing by hoërisikogebiede, oorde en sake-sentrums, die munisipaliteit se volle gereedheid vir die brandseisoen – ondersteun deur ‘n 24-uur-noodbeheersentrum – en die voortsetting van afvalverwyderingsdienste; selfs op vakansiedae.
“Ons bou aan ‘n stad wat aantreklik, skoon, goed bestuur en veilig is,” sê hy.
Korabie het die samewerking met die polisie, provinsiale die verkeersafde-
ling, gemeenskapspolisiëringsforums, private veiligheidsondernemings asook toerisme- en sakeleiers benadruk, maar gesê volhoubare veiligheid is ‘n gedeelde verantwoordelikheid.
“Die munisipaliteit alleen kan nie die feestyd beveilig nie. Ons het elke inwoner, elke sektor, elke sakeonderneming en elke besoeker nodig om hul deel te doen.
“Bestuur verantwoordelik, respekteer ons verordeninge en meld misdaad of verdagte gedrag aan.”
Hy sê die Drakenstein is reeds bekend vir wêreldklas-besienswaardighede en -mense, en dat die komende seisoen ‘n kans is om dié beeld nog verder te verstewig.
“Die Drakenstein is nie net mooi nie – dit is veilig, vriendelik en wêreldklas. Laat ons hierdie feestyd die veiligste en mees voorspoedige nog maak.”


