’n Man van Chicago in Paarl-Oos is tien jaar tronkstraf opgelê nadat hy verlede maand in die Paarl-landdroshof skuldig bevind is aan kabeldiefstal.
Heindrich Fredericks is ook deur die hof onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Fredericks het op 9 Oktober 2021 ’n mini-substasie in Jan van Riebeeckweg in die Paarl oopgebreek en die koperkabels en ander elektriese toerusting daaruit verwyder.
“Kabeldiefstal lei tot ontwrigting van deurslaggewende dienste aan ons gemeenskap, en dit noodsaak die munisipaliteit om enorme bedrae geld aan herstelwerk, instandhouding en vervanging (van toerusting) te bestee. Dit is geld wat belê kon word in nuwe infrastruktuur, opgraderings en om die lewe makliker te maak vir ons gemeenskappe wat almal reeds ontrief is deur aanhoudende Eskom-beurtkrag,” het die burgemeester van Drakenstein, Conrad Poole, ná die vonnisoplegging gesê.
“Dit is gerusstellend dat ons regstelsel hulle hardhandig hanteer en dat hulle die straf kry wat hulle verdien. Ek wil ons gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by die stryd teen kabeldiefstal deur diegene wat daarvoor verantwoordelik is te rapporteer.”
. Die munisipaliteit doen ’n beroep op inwoners van Drakenstein om enige verdagte aktiwiteite met betrekking tot kabeldiefstal by hul beheerkamer by 021 807 8508, of by die polisie aan te meld. Anonieme wenke word ook verwelkom en kan tolvry aan die munisipaliteit gestuur word by 021 807 8508 of 080 131 3553.
Die munisipaliteit bied ’n beloning van tot R5 000 aan enigiemand wat inligting verskaf wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van verdagtes wat betrokke is by enige strafregtelike oortreding teen die munisipaliteit.