PAARL – Inwoners van wyk 22 in die Paarl, wat die gebiede New Orleans, Charleston Hill en Dal Josafat insluit, het op 20 Oktober vir die eerste keer sedert Maart vanjaar weer ‘n wyksvergadering gehou – ná toenemende klagtes oor hul DA-wykraadslid, Felix Cupido.
Die vergadering is in die Hugenote-gemeenskapsaal gehou en is deur Cupido, Stephen Korabie (die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit), Koos le Roux (die speaker van die munisipaliteit), Gert Combrink (onderburgemeester) en verskeie lede van die burgemeesterskomitee bygewoon.
Cupido, wat die vergadering geopen het met die doel om verslag te doen oor wykprojekte vir die 2024-’25-boekjaar, is kort daarna in die rede geval deur inwoners wat hul frustrasie oor verskeie plaaslike probleme uitgespreek het.
Klagtes oor dienslewering
Inwoners beweer dat Cupido nie die verpligte kwartaallikse wyksvergaderings hou nie, geen terugvoer gee oor uitstaande sake nie en nie op hul klagtes of versoeke reageer nie.
Paarl Post het vroeër berig die gemeenskap voer aan dat Cupido infrastruktuurkwessies soos onwettige rommelstrooiery, slaggate en toegegroeide sypaadjies ignoreer en dit glo nie aan die munisipaliteit oordra nie.
LEES OOK: Wyk 22 se inwoners kla oor raadslid ‘nie sy plig doen’
Verder het die koerant berig inwoners sê misdaad in die gebied neem toe en Cupido se gebrek aan sigbare betrokkenheid vererger die situasie.
Inwoners het op Maandagaand se wyksvergadering veral hul kommer oor ‘n speelpark in die wyk uitgespreek, waar verdagtes glo in bome wegkruip en verbygangers beroof.
Gemeenskapsbetrokkenheid en munisipale reaksie
Korabie het die gesprek oorgeneem en die gemeenskap versoek om aktief saam te werk om die probleme aan te pak.
Hy het inwoners aangemoedig om foto’s te neem van voertuie wat onwettig rommel stort en dit via die SeeClickFix-app by die munisipaliteit aan te meld.
Korabie het ook op die vergadering sy burgemeesterskomitee opdrag gegee om die bome by die speelpark te snoei om die gebied vir inwoners veiliger te maak.
Kommunikasiegaping
Inwoners het hul ontevredenheid oor die gebrek aan kommunikasie uitgespreek.
‘n WhatsApp-groep bestaan glo, waarop Cupido ook is, maar volgens inwoners reageer hy selde of glad nie op boodskappe of klagtes nie.
Korabie het aan inwoners verduidelik dat ‘n raadslid ‘n “boodskapper” tussen die publiek en die munisipaliteit is en dat hul rol hoofsaaklik is om gemeenskapskwessies oor te dra sodat die betrokke munisipale afdelings dit kan oplos.
Hy het ook gesê die onus is nie altyd op ‘n raadslid om ‘n pro-bleem op te los nie, maar dat hy wel ‘n fasiliterende rol moet vervul sodat die betrokke probleem deur die regte afdelings binne die munisipaliteit opgelos kan word.
Gereelde vergaderings ingestel
Korabie het verder aangekondig dat daar voortaan elke twee maande ‘n wyksvergadering sal plaasvind – met die volgende vergadering in Desember – en dat hy self teenwoordig sal wees.
Tussendeur sal Cupido en sy komitee maandelikse wykskomitee-vergaderings hou.
Die burgemeester het dit ook duidelik gestel dat Cupido nie afgedank sal word nie en dat hy op die volgende vergaderings ‘n kans gegun moet word om probleme in sy wyk te probeer oplos.
Wyksvergaderings word tradisioneel kwartaalliks gehou en wykskomitee-vergaderings agt keer per jaar, maar die nuwe reëling is ingestel om gemeenskapsvertroue te herstel.
Die wykprojekte vir die 2024-’25-boekjaar sal op die volgende wyksvergaderings bespreek word terwyl verslag oor die geld wat bestee is, gedoen sal word.


