’n Kleinskaalse skaapboer, Jacques Basson, op die Hermonpad buite Wellington, wil slange vang nadat altesaam 16 skape glo deur sy buurman se honde verskeur is.
Altesaam 12 skape is oor ’n tydperk van sowat 18 maande doodgebyt of uiteraard geslag aangesien hul beserings te ernstig was om te genees. Vier uit altesaam vyf skape en lammertjies is vanjaar geslag.
“Ek is nou al verby desperaat en raadop! Ek het al by die buurman geskree en tekere gegaan, maar dan het ek al gaan mooipraat en gepleit. Die polisie, die dierebeskermingsvereniging (DBV) en wetstoepassers was al met ’n groepreaksie hier op my plaas – en ek sukkel met die slag van my skape tot vandag toe!”
So verduidelik Basson dié gruwelike affêre wat alte gereeld op sy grond afspeel.
Hy is daarvan oortuig dit is sy buurman, ’n Europeër wat al jare lank op dié buurplaas woon, se trop honde wat deur die grensdraad toegang kry en op sy plaas tussen die ooie en lammertjies verwoesting saai.
“Ek is ’n groot diereliefhebber. ’n Spul honde het ek self op my plaas wat ek oor die jare by die DBV aangeneem het. Ek probeer alles in my vermoë om nie uit te vaar en die man se honde vrek te skiet nie,” vertel Basson bekommerd.
Hy meen baie mense is vol raad oor hoe hy die saak moet hokslaan, “maar ek loop nie heeldag met ’n geweer tussen die vele mense op my plaas nie. En as ’n aanval sou plaasvind, haas ek my eerder om die skapie te red as om huis toe te hol en ’n geweer te loop haal.”
Nog ’n probleem van ’n wetlike perspektief is die noodsaaklikheid van voldoende bewyse dat dié bloedlustige honde wel dié van sy buurman is.
“Weer eens sal ek eerder die skaap red as om video’s te staan en neem. Maar die man gee ook nie om nie, hy sal sommer ontken dis sy honde, en redeneer ek moet sorg dat niks op my grond kan inkom nie.”
Hy vertel dat daar wel een voorval op kamera vasgevang is wat wys dat die honde op sy grond gewaar is en aan die DBV gestuur is. Basson het al selfs ’n lokval gebou wat een van die honde gevang het. Die hond is glo later deur sy eienaar vrygelaat.
Die stasiebevelvoerder van Wellington-polisie, kol. Johan Barkhuizen, weet van die sage en sê hulle is bereid om ’n saak van saakbeskadiging deur te sien, “indien daar bo redelike twyfel bewys word dit is daai man se honde. Indien nie, sal die hof die saak net so uitgooi”.
Maar Basson se probleem is nie die polisie nie.
“Die polisie doen hul bes. Hulle kom elke slag uit, neem verklarings en is behulpsaam. Ek sukkel met wetstoepassers wat nie boetes uitreik nie, wat nie die probleem behoorlik oplos nie.”
Lientjie Dagnall van DBV-Wellington is goed met die klagte vertroud en sê dat sy al ’n paar gesprekke met die buurman gehad het.
“Ek en ’n beampte van wetstoepassing was saam na die buurman toe. Die wetstoepasser het nog ’n lift saam met my geneem, aangesien hul diensvoertuig gaan staan het. Die beampte het toe waarskuwings uitgereik aangesien sy boeteboekie nie by hom was nie. Hy sou Maandag (26 Junie) weer by die buurman besoek aflê om twee waarskuwings uit te reik – een om die grensheining te verhoog, en een om te sorg dat sy honde binne sy erf bly.
“Indien die probleem voortduur nadat hy reeds die waarskuwings ontvang het, dan mag wetstoepassers die honde afvat,” verduidelik Dagnall.
Die DBV het op ’n vorige geleentheid sowat drie honde by die buurman afgevat, wat glo nie sy eie was nie, maar wat wel toegang tot sy grond verkry het.
Die Drakenstein-munisipaliteit beskou hierdie as ’n siviele aangeleentheid wat deur ’n hof in ’n siviele geding besleg moet word.
Volgens Ernest Saayman, waarnemende uitvoerende direkteur: gemeenskapsdienste, het die munisipaliteit egter ’n ter plaatse ondersoek gedoen om as bemiddelaar die aangeleentheid te probeer besleg.
“Die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling het die aangeleentheid met die betrokke buurmanne bespreek. Daar is ooreengekom dat [die buurman] sy grensheining sou verhoog om die risiko te beperk, asook dat die twee buurmanne beurtelings die honde sal laat uitgaan en nadat die honde terug op die werf is, die skape sal laat wei.”
Dit wil egter vir Saayman voorkom asof die buurmanne nie hierdie ooreenkoms nagekom het nie.
’n Beampte van die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling het verskeie kere die perseel [van die buurman] besoek om ’n kennisgewing op hom te beteken, maar sonder sukses omdat [die buurman] selde by sy eiendom was.
“Verder bevestig Drakenstein-munisipaliteit dat hierdie ’n aangeleentheid in die landelike gebied is en nie direk binne die dorpsgebied, wat die munisipaliteit se mandaat is, is nie,” meen Saayman.
“Drakenstein-munisipaliteit raai verder aan dat die bure hierdie aangeleentheid tussen hulself moet uitsorteer voordat daar ’n siviele proses begin word wat soms baie duur kan wees, terwyl gesonde bure-kommunikasie so ’n probleem sou kon oplos.”
Intussen sal die munisipaliteit die DBV versoek om self ’n ter plaatse ondersoek te gaan doen om hulle te vergewis van die werklike omvang van die situasie, asook van hoeveel honde en vee op die kleinhoewe aanwesig is.
Ten slotte sê Saayman dat “die besluit oor wat met die honde sou gebeur, berus by die DBV en nie by die munisipaliteit nie.”