Dit het onder WAG/Stopmisdaad se aandag gekom dat die weegbrug van Drakenstein-munisipaliteit se stortingsterrein in Wellington al die afgelope agt maande buite werking is.
Volgens dié organisasie maak die personeel van die stortingsterrein “geskatte fakture” aan instansies uit wat daagliks daar kom stort.
WAG/Stopmisdaad (Wellington Aksie Groep/Stopmisdaad) is ’n niewinsgewende organisasie wat daarna streef om deur betrokkenheid inligting oor die gemeenskap te deel en ’n omgewing te skep wat veilig is om in te woon, werk en sake te doen.
Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas) moet skale ten minste elke twee jaar deur ’n erkende instansie nagegaan word wat dan die nodige sertifikate uitreik om te bevestig dat die skaal of weegbrug aan al die wetlike vereistes voldoen.
Volgens die organisasie moet skale of weegbrûe ook elke ses maande nagegaan en onderhou word om seker te maak dat dit werk.
Die Sanas-sertifikaat moet ook naby die skaal sigbaar wees sodat almal dit kan sien. Verder moet die sertifikaat ’n gesertifiseerde bewys (plakker) hê wat die datum bevestig wanneer laas die skaal of weegbrug versien is.
Maar by die weegbrug van Wellington se stortingsterrein is hierdie inligting nie beskikbaar nie.
Volgens wetgewing moet die netto-, bruto- en eiegewig op die faktuur aangedui word sodat gebruikers kan sien hoeveel gewig hulle na die stortingsterrein gebring het, asook vir die munisipale rekords.
In die geval van Wellington se stortingsterrein word daar volgens WAG/Stopmisdaad net ’n skatting gemaak wat die munisipale werkers uit hul duime suig.
Verder bepaal wetgewing ook dat die weegbrug se skerm so gestel moet word sodat die gebruiker wat die voertuig op skaal trek die gewig kan sien en dit dan verifieer met die gewig wat uitgedruk is. In hierdie geval is daar niks hiervan nie.
“Hierdie werkwyse van die munisipaliteit maak die deur wawyd vir bedrog oop. Daar is geen regte bewyse van betaling nie en die vraag moet ook gevra word of daar kontant vir ’n weegbrugkwitansie geruil word,” het die woordvoerder van WAG, Stephan Landsberg, gesê.
E-posse is 12 en 13 Februarie aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig waar inligting rakende dié probleem aangevra is. Al terugvoering wat in dié verband gekry is, is dat die munisipaliteit wel die e-posse ontvang het en dat die probleem “resolved” is.
“Geen probleem is opgelos nie, want geen antwoorde is verskaf nie. Ons het verskeie e-posse aan die munisipaliteit gestuur, maar sonder sukses,” het Landsberg gesê.
“Die boodskap wat deur die munisipaliteit uitgestuur is, is dat hy vere voel vir Jan Alleman en net geld wil maak. Met die huidige stelsel by die stortingsterrein sou ’n oorskatting van gemiddeld 10 ton per dag maklik gemaak word. Dit kom neer op ’n ekstra inkomste van R4 510 per dag, R27 060 per week, R117 169,89 per maand en R1 406 037,60 per jaar. Ek glo daar word meer as 10 ton per dag verkeerd geskat en instansies moet net bly betaal sonder regte bewyse en inligting.”
Teen druktyd het die munisipaliteit steeds geweier om kommentaar hieroor te lewer.