Franco en Jadrian Lielieveld by die buitelugskaakbord van Hugenote Hoërskool in Wellington.Foto: Engela Duvenage


Twee broers van Wellington, Franco en Jadrian Lielieveld, gaan albei vir Suid-Afrika by die 2024 Afrika-skaak -jeugkampioenskap verteenwoordig.

Dit vind van 15 tot 23 Junie 2024 in Benoni onder die vaandel van die Afrika-skaakkonfederasie plaas. Hulle sal deur die week in nege rondes hul breinkrag moet inspan teen spanne van Afrika wat by die Wêreldskaakvereniging (FIDE) geaffilieer is.

Daar word in ses ouderdomsgroepe meegeding. Franco neem vir Suid-Afrika se o.18-groep deel, en kleinboet Jadrian vir die o.14-span.

Albei word afgerig deur Christian Maxwell van die Drakenstein Dragons-klub in Wellington. Hulle is leerders aan die Hoërskool Hugenote in Wellington.

Jadrian is in gr. 8. Franco, nou in gr. 12, hoop om volgende jaar BSc Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch te kan studeer, aangesien geologie sy ander passie is.

Albei speel vir hul skool se skaakspan, en het Hugenote se interskole-atletiekspan ook in die 1 500 m verteenwoordig.

“Skaak leer hom uit die boks dink, en help hom selfs met die oplos van wiskundige probleme,” vertel Jadrian.

Franco geniet weer die strategiese aspekte van die spel, en hoe dit ’n mens leer om voortdurend op die uitkyk te wees vir maniere om ’n opponent te uitoorlê.

Hy was maar nog net ’n pikkie op laerskool toe hy die eerste keer skuiwe op ’n skaakbord begin maak het. Juffrou Melissa Ephraim van Van Wyksvlei Primêr, waar hy toe skoolgegaan het, het hom weldra vir dié skool se skaakspan gewerf.

Hy het in gr. 5 die eerste keer Kaapse Wynlande-, Boland- en Wes-Kaap-kleure gekry – en daarna hierdie prestasie jaar ná jaar volgehou.

Franco sal solank sy skuiwe vir die Afrika-kompetisie oefen wanneer hy op 8 Junie agter die nommereenbord van die Kaapse Wynland-streek inskuif vir die Kings & Queens-uitdaag in Caledon.

Jadrian het oor die jare vinnig-vinnig sy ouboet se skuiwe gevolg.

Hy het die eerste keer Wes-Kaapse kleure in gr. 3 verwerf, en het ook in 2019 ’n Suid-Afrikaanse span gehaal.

Die broers, wat maklik 30 uur per week se oefening aan hul sport wy, is goeie opposisie vir mekaar.

Hulle verlustig hulself in skaak speel teen teenstanders op die internet, die kyk van verwante Youtube-video’s, die deurlees van skaakboeke en die speel van skaakspeletjies.

Skaaktoernooie het die broers, hul ouers Frans en Janine, en laatlamboetie Jooste (3) al behoorlik oor die land heen geneem – van die Overberg en die Weskus tot in Kimberley en Benoni. Janine sê sy is dankbaar vir die ondersteuning wat haar seuns van hul skool ontvang, en ook vir die aftyd wat haar werkgewer, PnP Wellington, haar gee om haar kinders se sportbedrywighede te ondersteun.. Mense wat die Lielieveld-duo op hul reise wil ondersteun, kan vir Janine Lielieveld kontak by 078 284 4869 of inbetalings maak in Jadrian Lielieveld se Standard Bank-rekening, 10158651020.

You need to be Logged In to leave a comment.