Newton Bombelas het gewis die beste vir laaste gelos toe hulle Saterdag met die Weskus-kampioen, die Vredenburg-rugbyklub, kragte gemeet het. Die Vredenburg-klub, wat deur die gewese Springbok-7’s-speler Ryno Benjamin afgerig word, het die wedstryd vol vertroue begin, maar is met mening deur ’n goed geoliede Bombela-masjien aarde toe gebring.
Newton Bombelas het soos ’n sneltrein weggespring en eers het sy kaptein, Colin April (nr. 8), mooi die lyn gebreek en deurgesuiker vir ’n skitterdrie.
Hierna het die ster van die dag, Jaden van Wyk (vleuel), met sy kronkellopies ’n paar teenstanders in die lug laat gryp en pragtig afgerond nadat die voorspelers die grondslag gelê het.
Die telling was skielik 10-3. Vredenburg het aanval op aanval afgestuur, maar het die bal aangeslaan en die jongeling Curan van Diemen (stut) het soos ’n wafferse flank opgepik en die vlakhaas Keaton Booysen (vleuel) in besit gestel. Booysen moes 70 m ver nael vir die drie van die dag.
Die manne kon gaan water drink met Bombelas 23-3 gemaklik voor.
Ná rustyd het Jaden van Wyk die verdediging oopgeruk en pragtig afgerond nadat hy weer sy finesse in die aanval gewys het.
Vredenburg het moedig probeer, maar die skrif was reeds aan die muur vir die Weskus-kampioen.
Teen die einde het die losskakel, Wilfed Bowers, sy vernuftigheid met sy voete gewys toe hy die Vredenburg-agterlyn met sy systappe laat stilstaan het. Hy het die alomteenwoordige Colin April gevoer, wat netjies afgerond het. Die eindtelling was 45-29.
Newton kon egter nie vir die Boland Top-12-halfeindronde kwalifiseer nie nadat Worcester-Villagers met die Van Rhynsdorp Eagles afgereken het.
Voorlangs het Colin April (kaptein), Lester Phillips (flank), Nico Nel (haker) en Curan van Diemen (stut) behoorlik in die losskrum gekook en hul teenstanders behoorlik in die grond geboor.
Agterlangs het Wilfred Bowers (losskakel), Maxwell van Louw (senter) en Jaden van Wyk (vleuel) behoorlik die skare met hulle hardloop-lyne en vlymskerp breekslae op hul voete gehad.. Hierdie naweek speel Robertson teen Caledon en Safcol teen Worcester-Villagers in die halfeindronde by die Boland-stadion.
. Newton Bombelas hou sy bekeruitdeling op 7 Desember en toeskouers word gevra om hul plekke te bespreek omdat net ’n beperkte getal kaartjies beskikbaar is.
. Saterdag se Top-12- halfeindronde-wedstryde by die Boland-stadion in Wellington begin om 14:30 met Caledon wat Robertson Town pak, waarna teen Safcol Villa speel.