Ek waardeer al die kommentaar en het geweet dat ek ’n kat in die hoenderhok loslaat met my plasing in verband met die Suid-Afrikaanse All Black-ondersteuners verlede week.

Die rede hoekom ek gevra het wat beteken die All Blacks vir jou en jou familie as landsburger in SA het direk betrekking op die ouers van ons jeug, omdat ek self deur ’n ouer beïnvloed is om die All Blacks te ondersteun.

Daar is Grant, Kurtley en Canan wat voorbeelde is van daai seuntjie wat vandag ’n droom het. As hy na dié drie seuns van die Paarl kyk, weet hy dat enigiets moontlik is.

Ons kaptein is self lewende getuienis hiervan. Ná elke wedstryd sê hy dankie aan die ondersteuners en dat hulle dit vir SA en hul ondersteuners doen.

In my plasing noem ek dat ek steeds verstaan hoekom sommige landsburgers die All Blacks ondersteun, dus glo ek ek het my woorde reg gekies en toon geen disrespek teenoor enigiemand nie.

Ek het wel my verhaal deurgegee oor hoekom ek van ’n gebore All Black- ondersteuner my besluit geneem het om SA te ondersteun. Weer eens waardeer ek die kommentaar en dat julle wel my plasing gelees het!


Hybre van Niekerk,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article