Breyten Breytenbach bedank David Kramer nadat dié sanger saam met die baskitaarspeler Schalk Joubert by die ete vir sakelui, weldoeners en ondersteuners van die Breytenbach-sentrum opgetree het. Foto:


Die raad van trustees en die direksie is besig met verskeie inisiatiewe om genoeg geld te bekom om die voortbestaan van die Breytenbach-sentrum in Wellington as geregistreerde organisasie sonder winsbejag te verseker.

Geld is dringende nodig vir noodsaaklike instandhouding en bedryfskoste.

Hoewel die onderskeie programme en projekte by die Sentrum selfvolhoubaar is danksy skenkings en borgskappe, is voldoende skenkergeld vir die volhoubare bedryfskoste van die Breytenbach-sentrum, wat in die 1800’s gebou en in 2006 gedeeltelik gerestoureer is, nie beskikbaar nie. Die afskaling, met die gevaar van sluiting, van die sentrum sal ’n verreikende, negatiewe uitwerking vir die gemeenskappe van Wellington en groter Drakenstein inhou.

’n Ete, wat deur Prosperity Management Africa geborg is en waarvoor Wellington Wynroete die wyn verskaf het, is Donderdag 12 September op die vooraand van vanjaar se Tuin van Digters vir verskeie plaaslike sakelui, sakelui van buite die Wellington-omgewing en weldoeners van die sentrum gehou.

Die digter en skilder Breyten Breytenbach, wat saam met sy ouers en jonger broer en suster in die huis gewoon het waarin die sentrum gehuisves is, het die teenwoordiges ingelig oor die belangrikheid daarvan om ’n gemeenskapsinstelling soos die Breytenbach-sentrum te laat voortbestaan. Louis Duvenage, die voorsitter van die direksie, het inligting gegee oor die stand van sake sowel as die dringende noodsaaklikheid vir finansiële bydraes en ondersteuning.

Breyten het ook spesiaal ’n kunswerk geskilder wat hy by die ete aan die sentrum geskenk het. Die skildery hang in die Breytenbach-galery in die sentrum in Wellington en sal opgeveil word om geld in te samel.

Belangstellendes kan tot 30 November op die skildery bie. Voornemende kopers kan Anne-Ghrett Erasmus, die kurator van die galery, bedags by galery@ breytenbachsentrum.co.za of 021 864 2988 kontak vir besonderhede.

Die Breytenbach-sentrum is dankbaar teenoor die trustees van die Rupert- Historiese Stigting wat 50% (R700 792,47) van die algehele koste van R1 401 584.93 beskikbaar gestel het.

Navrae oor ondersteuning en bydraes kan gerig word aan Francois Lötter, die bestuurder van die Breytenbach-sentrum, by francois@breytenbachsentrum.co.za of 021 873 2786.

You need to be Logged In to leave a comment.