Breytenbach-sentrum ’n historiese monument

Die Breytenbach-sentrum is een van Suid-Afrika se mees uitsonderlike kultuur-historiese monumente.


Die Breytenbach-sentrum is een van Suid-Afrika se mees uitsonderlike kultuur-historiese monumente.

Dis ’n monument wat oor die afgelope tien jaar suksesvol deur Wellington se mense geskep is.

Die sentrum word gehuisves in ’n prag-gebou wat ongeveer 150 jaar gelede op Wellington opgerig is. Dit het aanvanklik as ’n spoghotel diens gedoen en later as blyplek vir die eerste na-skool studente by Wellington se vroeë kolleges. Uiteindelik, gedurende die vyftigerjare van die vorige eeu, het die Breytenbach-familie die gebou in ’n suksesvolle en baie gewilde losieshuis omskep. Hulle het die losieshuis tot 1974 bedryf voordat hulle die losieshuis gesluit en die gebou verkoop het.

Sonder die Breytenbachs se sorg en aandag het die gebou algaande verwaarloos en erg vervalle begin raak.

Vroeg in die negentigerjare het die destydse Drakenstein-munisipaliteit dit ernstig oorweeg om die erg vervalle ou gebou te sloop. ’n Groepie Wellingtonse kunsliefhebbers het egter die gebou van die munisipaliteit gekoop en groot drome begin droom: hulle wou die gebou red deur dit te restoureer en te omskep in ’n kuns- en kultuursentrum.

Op 26 Februarie 2007 het dié droom waar begin word: die Breytenbach-sentrum, ’n kunssentrum wat allerlei kuns-bemagtigingsprojekte aanbied en wat bestaan uit lesinglokale, ’n kunsgalery, ’n teaterkafee en ’n tamaai boekwinkel, is op dié dag amptelik geopen.

Die afgelope bykans tien jaar het die sentrum van krag tot krag gegroei. Wellingtonners en deesdae mense van talle omliggende Bolandse dorpe stroom week na week na die sentrum waar bekende en beroemde kunstenaars hulle vergas met spesiale optredes by die Bôrdienghuis, die sentrum se teaterkafee. Daar word ook voortdurend prag-uitstallings van bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars se werk in die Breytenbach-galery uitgestal en lede van alle Wellingtonse kultuurgroepe neem geesdriftig deel aan spesiale opleidingsprojekte wat by die sentrum aangebied word.

Onder hierdie opleidingsprojekte is daar die lees- en leerprogram wat by Blouvlei Primêr in die Perdeskoen buite die dorp aangebied word.

Altesaam 100 leerders van ses verskillende Wellingtonse skole neem aan hierdie program deel.

Die sentrum bied ook gereeld skryfkursusse aan vir jong, opkomende skrywers. Die skryfkursus wat die afgelope tyd deur die bekende skrywer Rachel Greeff aangebied is, het pas ten einde gekom.’n Splinternuwe skryfkursus word binnekort aangebied deur die Franse skrywer Olivier Truc, wat tans op besoek in Suid-Afrika is.

Die sentrum se jaarlikse Tuin van Digters-fees is vinnig besig om landwyd bekend te raak. Vanjaar vind die fees van 16-18 November in die pragtige tuin plaas wat spesiaal daarvoor by die sentrum ontwikkel is.

Nog ’n hoogtepunt op die Breytenbachsentrum se kalender is die Klassieke Musiekreeks wat jaarliks saam met die Rupert-musiekstigting in die Goodnow-saal op Wellington aangebied word.

Bekende Suid-Afrikaanse en internasionale musici tree in die verskillende konserte op wat vanaf einde Mei tot einde November een keer per maand aangebied word. Die volgende konsert vind op 7 Augustus plaas wanneer John Rojas die houtblaas-spesialis en Maria-Elizabeth Bezuidenhout (mezzo-koloratuur) saam optree.

Die uitsonderlike kunsuitstallings wat voortdurend deur die Breytenbach-galery by die sentrum aangebied word, trek week na week tientalle kunsliefhebbers na die sentrum.

In die jongste uitstalling word werke van die kunstenaars JP Meyer, Hennie Meyer en Andre du Toit vertoon. Die uitstalling is verlede naweek deur Laurie Gaum geopen.

As deel van hierdie uitstallings word elke uitstalling by die sentrum verder belig deur ’n spesiale besprekingsprogram wat ’n week na die opening van die uitstalling aangebied word en ’n week later word dit opgevolg deur ’n rondleiding wanneer die betrokke kunstenaars met belangstellendes oor hul kunswerke gesels.

Vir die jongste uitstalling is daar ’n besprekingsprogram op 2 Julie by die sentrum oor die onderwerp, “Die kerk en hul houding jeens gays”.

Dit word deur Laurie Gaum en Zacky Achmat aangebied.

Op Saterdag 9 Julie neem Hennie Meyer, JP Meyer en Andre du Toit belangstellendes op ’n rondleiding deur die uitstalling.

Die Bôrdienghuis-teater, het die afgelope tyd daarin geslaag om week na week groot getalle mense na die gereelde opvoerings wat daar plaasvind, te lok. Die jongste van hierdie gewilde vertonings was die optrede van Chris Chameleon verlede naweek.

Op 7 Julie tree Jak de Priester by die teater op. Twee dae later is Elvis Blue aan die beurt.

Ander bekende kunstenaars wat in die komende weke na die Bôrdienghuis kom is Koos van der Merwe, die kunstenaar wat landwyd beroemd geword het met sy vertolking van die werk van Leonard Cohen, Peter Mitchell en Luna Page, Mallies le Roux, Helena Hettema en Marc Lottering.

Theo Kemp, wat die sentrum se uitvoerende bestuurder sedert die opening in 2007 is, sê dat die sentrum hard werk om verskillende gehore suksesvol te bereik.

Danksy die sentrum se gesprekreekse en die wye verskeidenheid van ander programme wat aangebied word, is die sentrum toenemend besig om hierdie droom te bewaarheid.

“Dit gaan baie goed met die sentrum se bekende gemeenskapsprojekte waarmee ons die afgelope agt jaar besig is. Ons was ook baie gelukkig om van ons drama- projekte landwyd na die groot kunstefeeste te kon neem. Ons projekte kon ook heeltyd relevant bly en daarin slaag om op plaaslike vlak sowel as op nasionale en selfs internasionale vlak relevant te bly.”

Hy het bygevoeg dat die bekende Het Jan Marais Nationale Fonds onlangs weer sy betrokkenheid by die sentrum bevestig het en dat die fonds die sentrum finansieel ondersteun. Die Nederlandse Ambassade en die Vlaamse regering is gretig om aan die Tuin van Digters-projek deel te neem.

Die Wes-Kaapse regering het ook onlangs aangekondig dat die sentrum weer deel is van hul EPWP-program waardeur die honoraria van internes betaal word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.