Die digter, kunstenaar, skrywer, stryder vir Afrikaans en aktivis vir menseregte, Breyten Breytenbach, se lewe en werk word op 23 Februarie by die Breytenbach Sentrum in Wellington gevier.
Breyten (85), wat op 16 September 1939 op Bonnievale gebore is, is op 24 November 2024 ná ’n siekte in Parys, Frankryk, oorlede. Hy is op 3 Desember in die Père-Lachaise-begraafplaas in Parys ter ruste gelê.
Breyten se vrou, Yolande, sy dogter, Daphnée, skoonseun, Tim, en kleinseuns reis van Frankryk om die viering op 23 Februarie in Breyten se eertydse ouerhuis by te woon.
Volgens Francois Lötter, wat die viering namens die Breytenbach-sentrum organiseer, is dit ’n hartseer, maar ook grootse geleentheid wat op ’n wyse wat gepas is vir die nalatenskap en statuur van Breyten, aangebied sal word.
“Die geleentheid is nie ’n diens nie (dit was in Parys), maar veel eerder ’n viering. Breyten sal (en moet) voortleef in sy skeppings en deur sy poësie, skryfwerk, kunswerke, stryd teen ongeregtighede, sy menswees en nog vele meer.”
“Die Breytenbach-sentrum het daarom vanjaar ook sy tema #altydbreyten gemaak,” sê Louis Duvenage, die voorsitter van die Breytenbach-sentrum se direksie.
Die sentrum kan op Sondag 23 Februarie van 14:00 af besoek word. Gaste kan ’n besondere #altydbreyten-uitstalling in die galerye besigtig en ook die boekwinkel en digterstuin besoek.
Die koor van Hugenote Hoërskool in Wellington, waar Breyten eens die hoofseun was, sal ter verwelkoming vir gaste van sy getoonsette gedigte en ander liedere in die tuin sing.
Die amptelike program vind tussen 18:00 en 20:00 plaas.
Die program word afgesluit met ’n voorlesing deur die digter Antjie Krog van Breyten se gedigte in Engels, tesame met Laurinda Hofmeyr, wat van sy getoonsette gedigte sal sing. Hulle sal bygestaan word deur die musikant en baskitaarspeler Schalk Joubert.
Daar sal ook voorlesings wees van Afrikaanse gedigte deur die digter Diana Ferrus, video’s en ’n praatjie deur dr. Francis Galloway, sy biograaf. Anne-Ghrett Erasmus, die kurator van die Breytenbach-galery, sal oor haar en haar man, wyle prof. Ampie Coetzee, se jare lange vriendskap met Breyten en Yolande gesels, terwyl sy dogter vertellings oor haar pa sal deel. Georges Lory, Breyten se Franse vertaler, sal die toespraak wat hy in Parys gelewer het, in Engels voorlees.
Die program sal ook direk op die internet gestroom word. Die verrigtinge op 23 Februarie sal van 18:00 tot 20:00 op die sentrum se Facebook- en ’n Youtube-kanaal gestroom word. Die skakels waar enigeen die verrigtinge kan volg, sal van Vrydag 21 Februarie op die sentrum se sosiale platforms aangekondig word.
. Stuur versoeke vir besprekings na francois@breytenbachsentrum .co.za, of per WhatsApp aan Francois Lötter by 066 289 2212. Weens beperkte ruimte is dit noodsaaklik dat belangstellendes teen Dinsdag 18 Februarie ’n versoek stuur. ’n Waglys-stelsel sal in werking wees.