Breytenbach boekwinkel een van bestes

Die tamaai boekwinkel wat in die Breytenbach-sentrum op Wellington gehuisves word, word deur Suid-Afrikaanse boekmense bestempel as een van die beste bewyse dat boeke nie dood is nie maar dat dit besig is om stormenderhand die stryd teen die moderne


Die tamaai boekwinkel wat in die Breytenbach-sentrum op Wellington gehuisves word, word deur Suid-Afrikaanse boekmense bestempel as een van die beste bewyse dat boeke nie dood is nie maar dat dit besig is om stormenderhand die stryd teen die moderne tegnologie en by name e-boeke te wen.

In die week waarin ’n ander baken op die Suid-Afrikaanse boekepad, Leserskring, amper-amper geswig het voor die oënskynlike triomftog van e-boeke, het Ester Kotze, eienaar van die boekwinkel in die Breytenbach-sentrum, met groot oortuiging voorspel dat die komende maande gaan bewys dat boeke onvervangbaar is.

“Ek glo nie net in die staying power van ’n boek nie, ek beleef dit daagliks. Boekmense sê met toenemende verwondering vir my dat hulle tot die oortuiging kom dat niks ooit ’n boek sal kan vervang nie. Hierdie is nie sommer net wensdenkery nie. As die besoekers aan jou winkel toenemend vir jou sê dat hulle baie ver moes ry om hier in jou winkel weer tussen ’n oorvloed van boeke te kan staan omdat die winkels in hulle dorpe of drasties afgeskaal het of heeltemal verdwyn het, terwyl jou plek elke dag gesond groei, dan besef jy: iewers word iets verkeerd gelees.”

Volgens Ester het haar boekwinkel reeds ses jaar voor die amptelike opening van die Breytenbach-sentrum in die gebou wat die sentrum huisves oopgemaak. Sy en haar gesin was op daardie stadium in die buiteland woonagtig en toe hulle besluit om weer na hul tuisland terug te keer, moes sy iets vind om haar besig te hou.

“Ons eie boekery het uit ’n klomp kartondose vol boeke bestaan. Ons het die winkel hier op Wellington gekoop en ons boeke by die beskeie voorraad in die winkel gevoeg. Hierdie beskeie boeke-voorraad het oor die afgelope paar jaar gegroei tot meer as 25 000 boeke en so vinnig as wat die boeke by die voordeur uitstap stroom die nuwe boeke weer in.”

Volgens Ester het talle doemprofete haar oor die afgelope jaar of twee probeer oortuig dat die gety teen gedrukte boeke gedraai het en dat elektroniese boeke die boek van die toekoms is. Dit was ook baie maklik vir die doemprofete om voorbeelde uit te wys van die lot wat volgens hulle op haar boekwinkel gewag het. Groot en bekende boekwinkels het verdwyn en die groot plattelandse dorpe is oor die afgelope twee jaar van hulle boekwinkels gestroop.

“Ek het egter self die wêreld van die boek baie fyn dopgehou. In my eie winkel was daar geen sprake van ’n afplatting nie. Wêreldwyd is vreemde dinge aan die gebeur wat my geloof in boeke ondersteun: Amazon, die groot Amerikaanse boekwinkel wat net e-boeke verkoop het, het skielik ’n tamaai gewone boekwinkel op een van die Amerikaanse lughawens geopen, ons het pas die nuus ontvang dat die persentasie groei in die verkope van e-boeke vir die eerste keer in jare drasties gedaal het terwyl die verkope van gewone boeke met nuwe vaart weggespring het.”

Sy voel ook dat alles wat sy oor die toekoms van die boek glo, die heel duidelikste onderstreep word deur die feit dat Leserskring, die boekwinkel wat deur posbemarking miljoene rand se boeke oor die afgelope paar jaar aan Suid-Afrikaners verkoop het, binne ’n week nadat sy deure gesluit moes word, weer in ’n splinternuwe gedaante (maar onder dieselfde naam) uit die as herrys het.

“Al wat gebeur het is dat daar met nuwe oë na die bemarking van die boeke gekyk is, dat die haakplekke uitgestryk kon word en dat daar beter na reklamering met behulp van die nuwe tegnologie gekyk is. Ek glo dat jy moet leer om die tegnologie behoorlik in te span om meer mense te bereik om sodoende jou boeke beter bekend te stel. ’n Rekenaar kan nie ’n boek vervang nie maar dit kan wel help om nuwe bemarkingsmoontlikhede vir die boek oop te maak.”

Hoewel haar boekwinkel nie deel uitmaak van die projekte van die Breytenbach-sentrum nie maar dat sy bloot die ruimte in die sentrum huur om die winkel onafhanklik te bedryf, voel Ester dat die sentrum en die feit dat die sentrum vandag as kultuur-monument van Wellington beskou word, haar eie onderneming ook bevoordeel net soos wat haar boekwinkel die aansien van die sentrum help verhoog.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.