Breyten Breytenbach (85), die bekroonde digter, skrywer, kunstenaar en aktivis teen diskriminasie, wat op 24 November ná ’n kankerstryd in Parys, Frankryk, gesterf het, was lief vir die Boland – en veral vir Wellington.
Hoe dan anders? Hoewel hy op 16 September 1939 in Bonnievale gebore is, het hy in Wellington – waarna hy verwys het as Wamakersvallei (en later selfs as Woordmakersvallei) – skoolgegaan, en was hoofseun van Hugenote Hoërskool.
Die dubbelverdiepinghuis (The Grevilleas) op die hoek van Burger- en Malherbestraat in Wellington was van 1953 tot 1974 die tuiste van Hans (Oubaas) en Kitty (Ounooi) en hul vyf talentvolle kinders – Jan, ’n kolonel in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag, en ook skrywer van verskeie boeke; Rachel, die enigste suster; Breyten; Sebastiaan, voorheen onderwyser en ook digter/skrywer; en Cloete, bekende fotograaf en skrywer van verskeie fotoboeke.
Breyten was die laaste van die gesin wat oorlede is. Hy het egter steeds noue bande met Wellington en sy ouerhuis gehad nadat The Grevilleas in 2005 gerestoureer en herstel is en as die Breytenbach- Kultuur- en Gemeenskapsentrum ter nagedagtenis aan die Breytenbach-familie ingerig is.
Die Breytenbach-kinders, spesifiek Breyten, Cloete en Rachel, was nou by die sentrum betrokke. Breyten, wat saam met sy vrou, Yolande, in Frankryk gewoon het, het gereeld drie maande in die begin van die jaar in die Wes-Kaap besoek afgelê en byeenkomste by Breytenbach Sentrum aangebied en bygewoon.
Breyten was baie lief vir die sentrum en Wellington en het ook gereeld die Tuin van Digters-digfees in die naweek naaste aan sy verjaardag (op 16 September) bygewoon. Die Tuin van Digters word in 2025 vir die 14de agtereenvolgende jaar aangebied en het gegroei tot waar dit nou bekend staan as “Die tuiste van die Afrikaanse digkuns”.
Hoewel Breyten baie krities was oor die politieke situasie in Suid-Afrika, soos wat hy destyds was met die situasie voordat die demokratiese Suid-Afrika tot stand gekom het, het hy dit oorweeg om dalk weer in Wellington te kom woon.
Hy en Yolande het ’n woonstel in Seepunt waar hulle jaarliks van Januarie tot die einde van Maart gebly het.
Suid-Afrika, die Boland, Wellington en Breytenbach Sentrum gaan Breyten Breytenbach mis. Hy het die sentrum saam met die bestuur en vrywilligers as ’n suksesvolle en doelmagtige instelling sonder winsoogmerk tot voordeel van die hele gemeenskap gevestig. Dit sal nou voortgesit word met inagneming van Breyten se visie, soos saamgevat in die trustakte van die sentrum.
Breyten se liefde vir sy grootworddorp en ouerhuis word emosioneel beskryf en weergegee in sy gedig “Ek sal sterf en na my vader gaan”.
Ek sal sterf en na my vader gaan
Wellington toe met lang bene
blink in die lig
waar die kamers swaar en donker is
waar sterre soos seemeeue sit op die nok
en engele vir wurms spit in die tuin,
ek sal sterf en met min bagasie
in die pad val
die Wellingtonse berge oor
tussen die bome en die skemer deur
en na my vader gaan;
die son sal in die aarde klop
die wind se branders laat die voeë kraak
ons hoor die huurders
skuurloop bo ons kop,
ons sal dambord speel op die agterstoep
– ouvader kul –
en oor die radio
luister na die nag se nuus
vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
ons kom en ons gaan
is soos die water uit die kraan so
soos klanke uit die mond
soos ons kom en ons gaan:
ons béne sal die vryheid kén –
kom saam
in my sterf in in my na my vader gaan
Wellington toe waar die engele
met wurms vet sterre uit die hemel hengel;
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:
mý vader het ’n groot bôrdienghuis
(Francois Lötter, oud-joernalis, was van Mei 2017 tot einde November 2021 bestuurder en later direksielid by die Breytenbach-kultuursentrum in Wellington.)
Breytenbach se agtergrond
Breytenbach is op 16 September 1939 in Bonnievale gebore. Hy het kuns aan die Universiteit van Kaapstad studeer en ’n teenstander van die Apartheidsbeleid geword. Hy het in die jare sestig in Parys in Frankryk verder gaan studeer.
Daar is hy met Yolande Ngo Thi Hoang Lien, ’n Franse vrou van Viëtnamese oorsprong, getroud. Kragtens die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike 55 van 1949 was Breytenbach se huwelik in sy tuisland ongeldig. ’n Visum is vir die eerste keer in 1972 aan hom en Yolande toegeken en hulle het te midde van groot mediadekking na Suid-Afrika teruggekeer vir ’n skrywerskongres aan die Universiteit van Kaapstad. Tydens ’n onwettige besoek aan Suid-Afrika in 1975 is hy verraai, in hegtenis geneem en nege jaar tronkstraf vir hoogverraad opgelê. Ná baie internasionale bemiddeling is hy in 1982 vrygelaat.
Wat sy letterkunde betref, kan Breytenbach met die eerste oogopslag as surrealis geklassifiseer word. Sy debuutbundel, Die ysterkoei moet sweet, kan as ’t ware as een van die grootste vernuwende werke van die tyd gesien word.
Die surrealistiese invloed en die verkenning van die Zen-Boeddhisme word met gemengde gevoelens in Suid-Afrika ontvang. Dit is egter hierdie bundel wat hom groepeer met ander sogenaamde Sestigers, veral Jan Rabie en André P. Brink, wat ook omtrent daardie tyd in Parys gewoon en geskryf het.
Breytenbach se werk sluit poësie, romans en essays in. Hy is ook bekend vir sy skilderwerk.
(Bron: Litnet.com)