Die oud-Wellingtonner en bekende digter, skrywer en skilder, Breyten Breytenbach, het die dorp en die Breytenbach-sentrum besoek by ’n ope dag waar planne aan inwoners gewys is hoe die dorpsplein en omgewing gemoderniseer gaan word.
Die bekende Breytenbach-kultuur- en gemeenskapsentrum in Burgerstraat, ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, is deel van die planne om die gebied in die omgewing van die stadsaal, Joubert-plein en die biblioteek te moderniseer.
Die sentrum het op die ope dag saam met die Drakenstein-munisipaliteit, die Drakenstein-toerismevereniging, die Wes-Kaapse ekonomiese ontwikkelingsvennootskap en ander belanghebbendes aan inwoners gewys wat die plan behels en ook hul insette te kry.
Breytenbach het by die sentrum gesels met onder andere Andrew Boraine, uitvoerende hoof van die Wes-Kaapse ekonomiese ontwikkelingsvennootskap, wat betrokke is by die opgraderingsprojek, Francois Lötter, bestuurder van die Breytenbach-sentrum, en Louis Duvenage, voorsitter van die direksie van die sentrum.
Lötter het gesê die sentrum is opgewonde oor die planne en werk graag saam met die Drakenstein-munisipaliteit om dit so gou as moontlik ’n werklikheid tot voordeel van die hele gemeenskap te maak.
Die Breytenbach-sentrum, wat as die kulturele hart van Wellington beskou word, bied verskeie opheffings- en opleidingsprogramme aan. Dit sluit in opleiding in dagsorg, naaldwerk en drama sowel as ’n Afrikaanse prosa-skryfskool, poësie-opleiding en ’n leesprojek by skole in die omgewing.
Volgens Lötter is die onderskeie gemeenskapsprogramme en -projekte selfvolhoubaar, maar ’n dringende behoefte aan geld vir die bedryfskoste van die sentrum sowel as noodsaaklike restourasie bestaan. “Ons is baie dank aan Die Historiese Huise-stigting van die Ruperts verskuldig, wat R700 000 vir die herstel en restourasie van die sentrum beskikbaar gestel het. Die voorwaarde is egter dat die ander R700 000 elders gekry word.”
Breytenbach en sy vrou, Yolande, kom weer in Augustus na Suid-Afrika vir bekendstellings van sy bundels. Breyten, wat op 16 September 80 word, sal ook die jaarlikse Tuin van Digters-fees op 13 en 14 September by die Breytenbach-sentrum bywoon waar hy aan programitems sal deelneem.